Briekdanser wil slag by Spele slaan

Courtnae Paul, ʼn briekdanser van Johannesburg. (Foto: Instagram/CourtnaePaull)

Courtnae Paul, ʼn briekdanser van Johannesburg, is vasbeslote om haar buiging by vanjaar se Olimpiese Spele in Parys te maak.

Die 32-jarige boorling van Durban het twee hekkies wat in haar pad staan om vir die Spele te kwalifiseer – uitdunrondes in Sjanghai en Boedapest.

Dié sport maak vanjaar sy groot afwagting by die Spele nadat dit reusesukses by die Jeug- Olimpiese Spele in Buenos Aires in 2018 behaal het.

“Dit is ʼn mengsel van gevegskuns, gimnastiek – al die cool goed,” het Paul oor die sport gesê.

Sy het aan die einde van Maart by die Red Bull BC One Cypher in Johannesburg nóg silwerware in haar trofeekas bygevoeg.

Die kompetisieformaat het kop-aan-kop-tweestryde behels, waar dansers hul kreatiwiteit en die bemeestering van verskeie danstegnieke getoon het.

Paul is een van sewe briekdansers uit Afrika wat duim vashou om hul vliegtuigkaartjie na Frankryk te bespreek. Sy hoop om haar deurbraak te maak en om sodoende haar land op die wêreldverhoog te verteenwoordig.

Sy vertel dat sy ander sportsoorte soos gimnastiek, skopboks en Muay Thai beoefen het voordat sy begin dans het.

Nadat sy na Johannesburg verhuis het, het sy een doel voor oë gehad – om as ʼn professionele danser bekend te staan. Sy het onder meer as choreograaf, platejoggie en media-entrepreneur begin werk.

Paul het die dekade oue straatdansstyl net as ʼn stokperdjie beoefen en kort daarna haar stempel op die dansvloer afgedruk.

Tydens die Covid-19-pandemie het sy die tyd tot haar beskikking met albei hande aangegryp om haar danspassie in te oefen.

Sy het ʼn unieke styl ontwikkel en word as ʼn sterk vrou bestempel wat haarself in haar bewegings inleef.

Wêreldwyd kan net 16 vroue hul lande by die Olimpiese Spele verteenwoordig; dit is juis waarom Paul nou alles in die stryd werp om haar deelname te verseker.

Paul sê sy was uit die veld geslaan toe sy verneem dat Spele-deelname ʼn moontlikheid is.

“Ek kon dit nie glo nie.”

Haar droom was nie maklik om na te jaag nie omdat die sportsoort nog nie baie gewild in Suid-Afrika is nie. Daarbenewens moet sy ook die meeste dinge uit haar eie sak betaal.

Hopelik sal die Spele sorg dat die sportsoort ʼn definitiewe gewildheidsinspuiting kry.

Volgens Paul is sy slaggereed om aan die uitdunrondes deel te neem.

“Ek het so hard gewerk as wat ek kan; ʼn selfversekerde persoon is ʼn gevaarlike een.”

  • Briekdans is ʼn stedelike dansstyl wat in die 1970’s in die strate van die Bronx-omgewing in die VSA ontstaan het. Dit word gekenmerk deur akrobatiese bewegings, vinnige voetwerk en entoesiastiese platejoggies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.