Minstens 15 kinders sterf tydens brand by weeshuis

Argieffoto (pixabay.com)

Minstens 15 kinders is dood in ʼn brand by ʼn weeshuis in Haiti, het plaaslike media berig.

Dit het nooddienste glo meer as ʼn uur geneem om by die brand in Kenscoff, suid van die hoofstad Port-au-Prince, uit te kom.

Die Verenigde Nasies (VN) se kinderfonds (Unicef) het gesê babas en jong kinders is ook onder die sterftes.

Volgens Le Nouvelliste-koerant het verskeie persone beserings opgedoen.

“Ek is platgeslaan oor die sterftes van die kinders,” het Jovenel Moise, president van Haiti, op Twitter gesê. “Ek het die betrokke owerhede opdrag gegee om vinnig ondersoek in te stel na die oorsaak van die brand.”

Die weeshuis word glo deur die Church of Bible Understanding, ʼn groep van die VSA, bestuur. Verskeie berigte dui daarop dat hulle nie die weeshuis op ʼn verantwoordelike wyse bestuur het nie.

Volgens die instituut vir maatskaplike welsyn in Haiti (IBESR) het die bestuur nie ʼn lisensie om ʼn weeshuis te bedryf nie, het Unicef bygevoeg.

Kinders in Haiti word glo gereeld aan weeshuise oorgegee as die ouers van mening is dat hulle nie self vir hulle kan sorg nie. Haiti word beskou as die armste land in die westelike halfrond. Die land maak staat op finansiële steun van ander lande en gaan gebuk onder hoë vlakke van misdaad en korrupsie. Die land word ook gereeld deur natuurlike rampe geteister, insluitend ʼn aardbewing 10 jaar gelede waartydens meer as 200 000 mense gesterf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Porseleintjie ·

Wat ‘n verskriklike kinderlewe. Eers weeshuis en sterf dan op so n afgryslike manier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.