Minstens 67 sterf in Nepal-vliegongeluk

Die wrak van die vliegtuig by Pokhara (15 Januarie 2023) (Foto: Prakash Mathema/AFP)

Minstens 67 mense is Sondag in Nepal dood tydens ʼn vliegtuigongeluk met 72 persone aan boord. Dit is die land se dodelikste vliegtuigongeluk in drie dekades.

“Altesaam 31 liggame is reeds na hospitale geneem,” het polisiebeampte AK Chhetri aan AFP gesê. Nog 36 liggame is steeds vasgekeer in die 300 meter diep ravyn waarteen die vliegtuig vasgevlieg het.

Die weermag het gedeeltelik die getalle bevestig met ʼn woordvoerder wat gesê het 29 liggame is al uit die wrak verwyder en dat daar nog 33 op die toneel in Pokhara in sentraal Nepal is.

“Die vliegtuig het in ʼn ravyn vasgevlieg, so dit is moeilik om die liggame uit te haal. Soek-en-reddingsoperasies duur voort. Daar is tot dusver nie enige oorlewendes nie,” het weermagwoordvoerder Krishna Prasad Bhandari aan AFP gesê.

Een plaaslike beampte het aangevoer sommige oorlewendes is na ʼn hospitaal geneem – maar dit is nie deur die lugdiens Yeti Airlines of enigiemand anders bevestig nie.

Yeti-woordvoerder Sudarshan Bartaula het aan AFP gesê onder diegene aan boord – 68 passasiers en vier bemanningslede, was 15 uitlanders – insluitend vyf persone van Indië, vier van Rusland en twee van Korea. Die res is almal van Nepal.

Die vlug van Kathmandu het in stukke gebreek toe dit die ravyn getref het. Die ongeluk het omstreeks 11:00 (0515 GMT) tussen Pokhara se plaaslike en splinternuwe internasionale lughawe plaasgevind.

Pokhara se nuwe internasionale lughawe het op 1 Januarie sy deure oopgemaak en moet geleidelik die ou een, wat in 1958 gevestig is, vervang. Die stad is ʼn deurgang vir persone op ʼn godsdienstige pelgrimstog en internasionale bergklimmers.

Nepal se lugvaartbedryf het die afgelope paar jaar ʼn hupstoot gekry met goedere en passasiers wat na moeilik bereikbare gebiede vervoer word. Dit word egter geteister deur swak veiligheid weens ʼn gebrek aan opleiding en instandhouding.

Die Europese Unie het alle Nepal-lugdienste uit sy lugruim verbied oor kwessies rondom veiligheid.

Lugdiensoperateurs sê Nepal het ook ʼn gebrek aan infrastruktuur vir akkurate weervoorspellings, veral in afgeleë gebiede. Die weer kan vinnig en onverwags tussen die berge verander en gevaarlike vliegtoestande veroorsaak.

In Mei 2022 is al 22 mense aan boord ʼn vliegtuig van Nepal-lugdiens Tara Air dood – 16 persone van Nepal, vier van Indië en twee van Duitsland.

In Maart 2018 is 51 mense dood toe ʼn vliegtuig van US-Bangla Airlines naby Kathmandu se internasionale lughawe neergestort het. Dit was in daardie stadium Nepal se dodelikste ongeluk sedert 1992 toe al 167 mense aan boord ʼn vlug van Pakistan International Airlines omgekom het toe die vliegtuig in sy aantog na Kathmandu neergestort het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.