Musk en Zuckerberg sal dalk in Italië appels swaai

Mark Zuckerberg (links) (Foto: Mandel Ngan/AFP) en Elon Musk (Foto: Ryan Lash/TED Conferences, LLC/AFP)

Elon Musk het Vrydag gesê sy krytgeveg met Mark Zuckerberg sal in Italië plaasvind. Owerhede het bevestig daar is gesprekke om ʼn “groot liefdadigheidsgeleentheid aan te bied”.

Terwyl enige kragmeting tussen die twee tegnologiereuse nog amptelik bevestig moet word, het Musk op X (vroeër bekend as Twitter) gesê die reëlings vorder goed.

“Ek het met die eerste minister van Italië en die minister van kultuur gesels,” het Musk geskryf, met verwysing na eerste minister Giorgia Meloni. “Hulle het ingestem tot ʼn epiese ligging.”

Meta-hoof Zuckerberg het op sy Threads-netwerk gereageer met ʼn kaal bolyffoto van homself wat ʼn teenstander neerpen.

Zuckerberg, ʼn gemengdevegkuns-entoesias, het al aan jiujitsu-kompetisies deelgeneem. “Ek is lief vir hierdie sport en ek is al gereed om te baklei sedert die dag wat Elon my uitgedaag het. As hy ooit instem tot ʼn spesifieke datum, sal julle dit van my hoor. Tot dan, aanvaar asseblief dat daar nog nie ʼn ooreenkoms is van enigiets wat hy sê nie.”

Die Italiaanse kultuurminister Gennaro Sangiuliano het bevestig dat hy met Musk gesels het oor hoe om “ʼn groot liefdadigheidsgeleentheid te reël”, maar gesê geen stryd sal in Rome plaasvind nie.

Musk hoop glo dat die geveg in die antieke Colosseum kan plaasvind, ʼn Unesco-wêrelderfenisgebied. Hy het laat in Junie plasings oor die idee gemaak.

Sangiuliano het in ʼn verklaring gesê enige geleentheid saam met Musk sal “baie geld insamel, baie miljoene euro’s wat geskenk sal word aan twee belangrike Italiaanse kinderhospitale”.

“Dit sal ook ʼn geleentheid wees om ons geskiedenis en ons argeologiese, kuns- en kulturele erfenis op ʼn wêreldskaal te kan bemark.”

Musk het intussen gesê “alles moontlik sal gedoen word om die verlede en hede van Italië te respekteer” en dat die opbrengs “vir veterane en kinderhospitale geskenk sal word”.

Hy het gesê die krytgeveg sal bestuur word deur sy eie en Zuckerberg se stigtings en nie deur UFC, die Las Vegas-gebaseerde gevegskuns-promotor, nie.

UFC-hoof Dana White wil graag deel wees van die geleentheid en het vandeesweek tydens Mike Tyson se podsending gesê hy hoop die geveg sal minstens $1 miljard in inkomste oplewer.

Zuckerberg het in sy Threads-plasing gesê hy sal graag saam met ʼn professionele organisasie soos UFC wil werk wat ʼn program sal kan saamstel om elite atlete in die sport te bevorder.

Die twee tegnologiereuse het direkte mededingers geword toe Zuckerberg se Meta die Twitteragtige Threads-platform vroeg in Julie van stapel gestuur het.

Musk het nie melding gemaak van enige datum vir die geveg nie, maar gesê hy sal moontlik ʼn “klein operasie moet ondergaan” om ʼn probleem met sy regterskouerblad op te los. Herstel sal net ʼn paar maande duur, het hy bygevoeg.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Charles ·

Absolute klomp strooi. Wanneer die mensdom aan die einde van hul era kom en belaglike vermaak word uitgedink as n overture vir hul uitwissing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.