Namibië sê ja vir uitdunning van derduisende pelsrobbe  

’n Kaapse pelsrob. (Foto: Chris Stenger / Unsplash)

Namibië se jaarlikse seejagseisoen het Saterdag amptelik begin en die regering het die groen lig vir die uitdunning van 86 000 Kaapse pelsrobbe gegee. Die meeste permitte is vir die uitdunning van welpies uitgereik.

Die uitreiking van dié permitte volg ondanks ʼn afname in die aanvraag na robwelpies en toenemende teenkanting deur diere- en omgewingsaktiviste.

Die robbe word hoofsaaklik vir hul pelse gejag. Die regering laat die praktyk glo toe om die bevolking van die Kaapse pelsrob aan die Namibiese kus te beheer.

Derek Klazen, minister van visserye in Namibië, het Vrydag bevestig dat mense wat reeds ʼn jagkwota ontvang het, kan voortgaan.

Klazen het wel gesê dat heelwat minder robwelpies die afgelope paar jaar gejag is as gevolg van ʼn afname in aanvraag.

Die robbe is voorheen hoofsaaklik aan die Europese pelshandelmark verkoop, maar die aanvraag van dié mark het drasties afgeneem nadat die Europese Unie in 2009 ʼn verbod op robinvoere ingestel het.

China is nou die hoofmark vir Namibië se rob-uitskot.

Die uitdunning van robbe is lank reeds ʼn omstrede kwessie in Namibië, met diereregtegroepe wat die praktyk as wreed beskryf en dit teenstaan.

Namibië het ongeveer 1,6 miljoen robbe en het vroeër die maand nuwe permitte uitgereik vir die jag van 80 000 robwelpies en 6 000 bulle.

Naudé Dreyer, medestigter van die Ocean Conservation Namibia Environmental Trust, het sy ontsteltenis oor die regering se stap om vanjaar jagkwotas uit te reik te kenne gegee, veral in die lig van die afname in die vraag na veral welpies.

“So ʼn besluit moet op wetenskaplike navorsing berus,” het hy aan die nuusdiens AFP gesê.

Dreyer voer aan dat geen behoorlike navorsing gedoen is nie, en dat die jagtog die hele ekosisteem kan ontwrig.

Die regering regverdig die uitdunning en hou vol dat die robbevolking ʼn bedreiging vir die visbedryf inhou, wat deurslaggewend vir Namibië se ekonomie is.

Die Namibiese regering het vroeër vanjaar in die parlement debat gevoer oor voorstelle om uitdunningskwotas te verhoog nadat inligting ontvang is dat die robbe buitensporige hoeveelhede vis vreet.

Volgens Seal Alert SA is Namibië die enigste land in die Suidelike Halfrond wat robbe kommersieel jag.

Robbejag vind ook in Kanada, Finland, Groenland, Ysland, Noorweë en Swede plaas.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.