Nege vas ná terreuraanval op hotel in Kenia

Luke Potter, wat beide Britse en Suid-Afrikaanse burgerskap gehad het, is ook in die aanval oorlede. (Foto: www.gatsby.org.uk)

Nege persone is in Kenia in hegtenis geneem in verband met Al-Sjabaab se aanval op ʼn luukse hotel in Nairobi waartydens minstens 21 persone, waaronder ʼn Suid-Afrikaner, gesterf het.

Al vyf militante wat die DusitD2-hotel-en-sakekompleks Dinsdag bestorm het, is dood. Daar is ʼn grootskaalse soektog van stapel gestuur na die persone wat dit georganiseer het.

Die Rooi Kruis in Kenia het gesê almal wat vermis was, is gevind.

Maroela Media het vroeër berig Luke Potter, wat beide Britse en Suid-Afrikaanse burgerskap gehad het, is ook in die aanval oorlede. Potter was die Afrika‑programdirekteur van die Gatsby Charitable Foundation, ʼn organisasie wat nie-regeringsorganisasies finansier en veral op oprigting van plaaslike infrastruktuur en landbounavorsing vir liefdadigheidsdoeleindes fokus.

Die terreuraanval het Dinsdag begin met talle motorbomontploffings buite ʼn bank en ʼn selfmoordbomaanval by die ingangsportaal van die hotel waarna minstens vier gewapende mans toegeslaan het. Mense het Dinsdag vreesbevange uit die DusitD2-kompleks in Nairobi gevlug terwyl ontploffings en geweerskote deur die buurt weerklink het. Die geweerskote kon deur die nag gehoor word soos die aanval voortgeduur het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.