(No Vac) Djokovic land in Australië

Argieffoto van Novak Djokovic in Australië. (Foto: Patrick HAMILTON / AFP)

Die oningeënte Serwiese tennisster Novak Djokovic het Dinsdag in Australië aangekom byna ʼn jaar nadat hy uit dié einste land gedeporteer is vir sy weiering om teen Covid-19 ingeënt te word.

Die negemalige Australiese Ope-kampioen is aanvanklik vir drie jaar uit die land verban nadat hy in Januarie vanjaar ʼn regstryd oor sy entstofstatus verloor het.

Australië het egter intussen sy vereiste oor verpligte inenting vir besoekers opgehef.

Craig Tiley, uitvoerende hoof van Tennis Australië, sê hy hoop die plaaslike tennisondersteuners sal Djokovic se terugkeer verwelkom.

“Ons verwelkom hom terug in Australië. Ek dink terwyl ons praat, land hy in Adelaide en ek dink hy gaan weer die speler wees om te klop,” het hy aan verslaggewers gesê.

“Ek het ʼn groot mate van vertroue in die Australiese publiek. Ek het baie vertroue dat die ondersteuners sal reageer soos ons hoop hulle sal reageer.”

Djokovic sal van Sondag aan die Adelaide International deelneem terwyl hy opwarm vir die Ope in Melbourne.

“Ek was oor die jare regtig bevoorreg om baie sterk in Australië te begin en hou daarvan om daar te speel,” het die wêreld se no. 5-speler verlede week in Dubai gesê nadat hy die 2022-seisoen met ʼn rekordgelykstaande sesde ATP-toer-eindstryd geëindig het.

“Hopelik kry ek ʼn ordentlike ontvangs daar ná wat vroeër vanjaar gebeur het, en hopelik kan dit my help om goeie tennis te speel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.