Nog ʼn bekende kunswerk loop deur onder aktiviste

Die aktiviste het Woensdag op Andy Warhol se afdrukke toegesak. (Foto: Stop Fossil Fuel Subsidies/Twitter)

Nog ʼn bekende kunswerk het Woensdag onder omgewingsaktiviste deurgeloop – glo in protes teen die wêreld se klimaatkrisis.

Die aktiviste het onder meer hul hande aan die deursigtige omslae van die kunstenaar Andy Warhol se bekende skermafdrukke “Campbell’s Soup” vasgegom. Dié afdrukke word by die Nasionale Galery van Australië in Canberra uitgestal.

Die betogers het ook graffiti op die omslae van die afdrukke geteken. Volgens die galery is die omslae skoongemaak en daar is geen permanente skade nie.

Die jongste protesoptog is deur ʼn groep wat hulself Stop Fossil Fuel Subsidies Australia noem.

Dit is die jongste betoging oor klimaatsverandering in ʼn reeks betogings wat reeds talle bekende kunswerke oor die wêreld heen geteiken het.

Twee klimaataktiviste het verlede maand hul hande aan die omslag van ʼn Pablo Picasso-skildery in ʼn Melbourne-kunsgalery vasgegom.

Voor dit is tamatiesop oor Vincent van Gogh se “Sonneblomme”-skildery in die Nasionale Galery in Londen uitgegooi. Enkele dae later is kapokaartappels op ʼn Claude Monet-skildery in ʼn Duitse museum uitgegooi. ʼn Wasbeeld van Brittanje se koning Charles III is ook by die Madame Tussauds-museum in Londen met sjokoladekoek besmeer.

Die Nasionale Galery in Australië het ná die jongste voorval kortliks gesê dat hy nie dié soort dade goedkeur nie “en sal nie verder kommentaar hieroor lewer nie”.

Warhol se “Campbell’s Soup”-skermafdrukke is in die 1960’s gemaak en bly een van die mees herkenbare simbole van die Amerikaanse popkunsbeweging.

Volgens die betogers het hulle spesifiek hierdie afdrukke geteiken om die “gevaar van kapitalisme” uit te lig.

“Andy Warhol het in hierdie ikoniese reeks verbruikerswese uitgebeeld wat mal geword het en nou het kapitalisme mal geword,” het Bonnie Cassen van Stop Fossil Fuel Subsidies Australia in ʼn verklaring gesê.

“Gesinne moet kies tussen medisyne en kos vir hul kinders, terwyl fossielbrandstofmaatskappye rekordwinste verdien.”

Die organisasie het video’s van sy betoging op sosiale media gedeel en bygevoeg dat die Australiese regering derduisende dollar betaal om fossielbrandstowwe te subsidieer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Goldy ·

Ek hoop hulle het geloop na die gallery en terug. En hoekom dra hulle moderne klere of is dit flax

George ·

Vandaliste, nie aktiviste nie. Ja ja ek weet “vandaliste” is nie reg nie, en moet vandale wees.

BigBucksBrits ·

Wat doen kuns aan verwarming? Arme onopgevoede mense

Goldy ·

Presies, dis die miljoeners met hulle private jets wat by verre die grootste koolstofvoetprint het per persoon as enigiemand anders.

Vonkprop ·

Lyk my die sekuriteitswag het sy opleiding in SA gekry. Hy kon die voorvalletjie maklik ontlont het.

Keelvol ·

Hulle is nie aktiviste nie….. maar veel meer ECCO-terroriste. G’n wonder niemand neem die klop ernstig op nie.

Kobus ·

Wat my verstand te bowe gaan is die feit die boewe al die tyd in die wêreld het met hulle aksies aan te gaan en geen polisie / sekuriteit doen iets nie.

Sandra ·

My eerlike opinie is dat die mense niks beters het om te doen met hulle tyd nie. Hulle werk seker nie, en word deur die aktiviste geteiken om die nonsens aan te vang. As hulle of werk, of ‘n stokperdjie het wat hulle besig hou, sal hulle nie sulke nonsens aanvang nie. Ek meen gom jouself vas op ‘n afdruk van ‘n tamatiesop prentjie? Klink dit normaal? Doen dit eerder met al die ou bome wat hul deesdae afkap.

Goldy ·

Die ‘kunstenaar’ gebruik dan die grafiese kunswerk van Campbells, dis dan nie eers eie werk nie?

Goldy ·

Onthou altyd, die mense met die grootste koolstofgebruik per kapita is by verre die superrykes met hulle lavish leefstyl. Gaan betoog by hulle besighede

Marthinus W ·

Die vraag is: wie finansier hulle? Die Stop Oil-groep kry hul geld van ‘n Getty-erfgenaam, en ‘n hedgefund bestuurder, wat 800 miljoen pond se beleggings in Heathrow-lughawe het, is ook n finansierder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.