Nóg ’n United-speler in hof

Deur Riaan Hofmeyr

Ryan Giggs. Foto: Lindsey Parnaby/AFP.

Ryan Giggs, die voormalige Manchester United-ster, probeer tans om sy naam in ere te herstel nadat klagtes van aanranding teen hom aanhangig gemaak is.

Kate Greville, die vrou met wie hy in ’n verhouding was, beweer dat die 48-jarige sportheld haar op 1 November 2020 aangerand het. Weens die wêreldwye Covid-19-pandemie word die saak nou eers in die Manchester Crown-hof aangehoor.

Die paartjie was destyds glo in ’n rusie betrokke omdat Greville nie Giggs se selfoon vir hom wou teruggee nie. Sy het na boodskappe en oproepe gesoek wat daarop sou dui dat hy haar verneuk het.

Volgens Greville het dit al ’n paar keer vantevore in hul verhouding gebeur en sy was weer eens agterdogtig. Die stryery het tot ’n crescendo opgebou en Giggs het haar na bewering met die kop gestamp.

Haar suster (Emma Greville) het intussen gesê dat hy gedreig het om haar ook aan te rand.

Behalwe vir dié gewelddadige voorval word daar ook in die hof beweer dat Giggs Greville al jare lank sielkundig geïntimideer het deur middel van isolasie, vernedering en teistering.

“Hy sou kwaad geraak het as sy volgens hom nie ’n goeie meisie was nie,” het Greville in die hof gesê.

Die sokkerster het onskuldig gepleit op al die klagte.

Dit is egter nie die eerste keer dat Giggs se eskapades voorbladnuus is nie. Hy was in 2011 ook in die sop nadat dit bekend geword het dat hy agt jaar lank ’n verhouding met sy broer se vrou gehad het.

Giggs is die Britse speler wat met die meeste titels en toekennings in die sport se geskiedenis spog, terwyl hy altyd as ’n voorbeeld vir ander spelers beskou is.

Hy is die tweede persoon wat ’n verbintenis met Manchester United het wat die afgelope jaar op aanrandingsklagte in die hof verskyn het.

Klagte van aanranding en verkragting is vroeër teen Mason Greenwood gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

ES ·

Klink vir my of hy lekkkkerrr stout is. ‘n Rukkie in die tjoekie sal hom dalk genees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.