Noord-Korea se Kim in Rusland; VSA waarsku teen ‘gevolge’ oor wapens

Die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong Oen, saam met sy Russiese eweknie, Wladimir Poetin. (Foto: Alexander Zemilianichenko/Pool/AFP)

Die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong Oen, het Dinsdag in Rusland aangekom waar hy sy Russiese eweknie, Wladimir Poetin, sal ontmoet.

Die VSA het reeds gewaarsku dat die ontmoeting kan lei tot ʼn wapenooreenkoms tussen die twee lande wat Moskou se aanval op Oekraïne verdere stukrag kan gee.

Dmitri Peskov, woordvoerder van die Kremlin, sê Kim sal Poetin later vandeesweek op ʼn ongespesifiseerde plek in die verreooste van Rusland ontmoet.

Poetin woon tans die oostelike ekonomiese forum in Wladiwostok, die stad in die ooste van Rusland naaste aan die Noord-Koreaanse grens, by. Daar is egter geen aanduiding dat die twee leiers hul samesprekings daar gaan voer nie.

Kenners sê Moskou sal waarskynlik artillerie-ammunisie en tenkafweermissiele van Noord-Korea versoek. Rusland sal in ruil hiervoor na verwagting gevorderde satelliet- en kernaangedrewe duikboot-tegnologie aanbied.

Die Withuis het verlede week gewaarsku dat Noord-Korea “ʼn prys sal betaal” as hy Rusland van wapens vir die voortgesette konflik in Oekraïne sou voorsien.

Kim het Sondag uit Noord-Korea na Rusland vertrek.

Volgens die staatsbeheerde KCNA is hy vergesel deur top- Noord-Koreaanse militêre amptenare, insluitend diegene in beheer van wapenproduksie en ruimtetegnologie. Dit sluit in Pak Jong Chon, sekretaris van die sentrale komitee van Noord-Korea se volksweermag, en Jo Chun Ryong, direkteur van dié land se wapenbedryf.

Dit dui daarop dat ʼn Poetin-Kim-beraad “waarskynlik sterk sal fokus op Rusland en Noord-Korea se moontlike militêre samewerking,” het Yang Moo-jin, ʼn professor in Noord-Koreaanse studies aan ʼn universiteit in Seoel, gesê.

Volgens Peskov sal die twee leiers “saamwerk op sensitiewe gebiede wat nie in die openbaar bekend gemaak sal word nie”.

KCNA-beeldmateriaal het gewys hoe Kim Sondag omstreeks 18:30 op ʼn rooi tapyt en deur ʼn erewag by die Pjongjang-stasie afgesien is voor die reis na Rusland.

Moskou het Sergei Shoigu, sy minister van verdediging, in Julie na Pjongjang gestuur. Hy het onlangs bilaterale gesamentlike vlootoefeninge bespreek.

Kim was onwrikbaar in sy steun vir Moskou se inval van Oekraïne, insluitend oor die verskaffing van vuurpyle en missiele.

Moskou en Pjongjang het ontken dat Noord-Korea wapens aan Rusland verskaf het of sal verskaf.

Kim het sedert die uitbreking van die Covid-19-pandemie nog nie ʼn voet buite Noord-Korea gesit nie. Sy laaste oorsese reis was in 2019, ook na Rusland om Poetin te ontmoet.

‘Smeek vir hulp’

Die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong Oen, saam met sy Russiese eweknie, Wladimir Poetin. (Foto: Alexander Yuri Kadobnov/AFP)

“Noord-Korea beskik oor die ammunisie wat Poetin nodig het vir sy oorlog in Oekraïne. Dit terwyl Moskou duikboot-, ballistiese en satelliettegnologie het wat Pjongjang kan help met sy ingenieurs-uitdagings wat dié land weens ekonomiese sanksies ondervind,” sê Leif-Eric Easley, ʼn professor aan die Ewha-universiteit in Seoul.

Die VSA het Maandag gesê “Poetin is desperaat om ʼn ontmoeting met Kim te reël”.

“Om oor die lengte van sy eie land te reis om ʼn internasionale eweknie te ontmoet om bystand te vra in ʼn oorlog, wat hy verwag het om in die eerste maand te wen, sou ek sê is smeek vir hulp,” het Matthew Miller, woordvoerder van die Amerikaanse departement van buitelandse sake, gesê.

“Ek sal albei lande daaraan herinner dat enige oordrag van wapens van Noord-Korea na Rusland in stryd sal wees met verskeie resolusies van die VN se veiligheidsraad.”

Washington het gesê Rusland kan wapens van Noord-Korea gebruik om Oekraïense voedselvoorrade en verhittings-infrastruktuur aan te val, veral met die winter wat daar op pad is.

Andrei Lankov, ʼn kenner van Noord-Korea aan die Kookmin-universiteit in Seoel, het gesê ʼn Poetin-Kim-beraad was deel van Moskou se “diplomatieke afpersing” van Seoel omdat Rusland nie wou hê dat Suid-Korea wapens aan Kiëf moet verskaf nie.

Seoel is ʼn groot wapenuitvoerder en het tenks aan Kiëf se bondgenoot, Pole, verkoop, maar jarelange binnelandse beleid verhinder die land om wapens in aktiewe konflikte te verkoop.

“Die grootste bekommernis van die Russiese regering is nou ʼn moontlike verskeping van die Suid-Koreaanse ammunisie na Oekraïne, nie net een besending nie, maar talle besendings,” sê Lankov.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

annie ·

Kim hou nie van vlieg nie. Hy reis gereeld per trein. Dis al. Daar word wild bespiegel en gewaarsku deur die Weste wat hoop hulle is in beheer van die heelal. Hulle hoop…

Aai ·

Mnr.Trump jy het goed oor die weg gekom met die twee wat doen Amerika nou dat hulle nie oor die weg kom?

JohanR ·

Kim en Poetin, Ramaphosa en Poetin. Soort soek soort! Kan ons verwag dat Ramaphosa sal nou vir Kim ontmoet?

Manie ·

Amerika is die laaste land op aarde wat vir ander kan voorskryf, hulle sit met meer bloed aan hulle hande as die res van die wêreld saam. Daar is bykans geen streek waar hulle nie besig is om onmin te skep en te destabiliseer nie.

Anna-marie ·

Dis waar. Maar hulle lieg so oor alles dat die meeste mense dink hulle is moreel, eties, demokraties ens. As mense maar net gaan dieper delwe.

Kosie ·

Amerika is die boelie wat dink hy kan almal net loop en dreig, maar ek glo al hoe meer lande is moeg vir sy voortdurende dreigement en oorloë. Verder beteken Amerika en die weste se woord ook niks nie; kyk maar net hoe hulle blatant gelieg het tydens die Minsk ooreenkoms, en waar Stoltenberg laas week erken het dat Rusland oor en oor probeer vrede maak het met die Oekraïne, maar ons media sal steeds voort storm met die naratief van “bose Rusland”. Ja, Kim Jong Oen is ‘n diktator, maar netso is Biden, Macron, Boris Johston, Cyril.

Hendrik ·

Ek verstaan nie so goed die resolusie van die vn nie. Het Amerika en westerse lande Navo dan alleen die reg om hul wapens te versprei?

Nommer 7 ·

Daar is ‘n groot verskil tussen wapens verskaf aan ‘n verdediger teenoor ‘n aanvaller, veral as die aanvaller skuldig is aan oorlogsmisdaad.

Pietertjie ·

Ek hoop nie dis ou Joe wat die waarskuwing rig nie! Dit laat my dink aan die lirieke van ‘n CCR-liedjie: put me down; or I’ll put a spell on you!

Grassie ·

Ek sal nie verbaas wees as Noord-Korea binnekort ook deel van Brics word nie. Ek het onlangs in ‘n kommentaar geskryf dat Brics die bymekaarkomplek van die muishondlande is. Daarna is o.a. ook Iran as lid aanvaar, so ek was reg. Ek dink net Indië hoort miskien nie daar nie.

Pieter J ·

Grassie jy is 100% in die kol. Ek dink die mense wat sulke groot Putin aanhangers is weet nie hoe hy Rusland oor dekades ons vyand was en die dood van baie van ons jong soldate veroorsaak het destyds in SWA met sy ondersteuning van die terroriste nie.

Marius ·

VSA… VSA. Isi lekker as die ander span presies dieselfde doen as jy nie… “Cry baby” VSA is die oorsaak van die oorlog en uitwissing van die Ukraine… Daarvan word niks gesê nie… Nooit dit sal die weste laat sleg lyk…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.