NS se Wêreldbeker-vrouesokkerspan uit hotel gehaas ná brand

Die Football Ferns van Nieu-Seeland. (Foto: Football Ferns/Twitter)

Nieu-Seeland se Wêreldbeker-vrouesokkerspan is Saterdag noodgedwonge uit ’n hotel in Auckland verwyder nadat ’n brand daar uitgebreek het.

Spelers en personeel van die Football Ferns is wel almal ongedeerd nadat hulle na buite gehaas is.

Dié nasionale span gaan tans tuis by die Pullman Hotel in die middestad van Auckland terwyl hulle aan die Wêreldbeker-sokkertoernooi vir vroue deelneem.

Dit is nog nie duidelik wat die brand by die hotel veroorsaak het nie. Die nooddienste vermoed egter nie in dié stadium onraad nie.

Die nooddienste Saterdag buite die Pullman Hotel in Auckland. (Foto: Twitter)

Die woordvoerder van die plaaslike nooddienste het aan AFP gesê sommige gaste is vir rookinaseming behandel, maar niemand is ernstig beseer nie.

’n Personeellid van die hotel het gesê rook is op die boonste verdiepings van die hotel aangemeld, maar die situasie is vinnig onder beheer gebring.

Nieu-Seeland het Donderdag die openingswedstryd van die toernooi met 1-0 teen Noorweë gewen.

Agt spanne bly tans in Auckland vir die toernooi – Nieu-Seeland, VSA, Viëtnam, Argentinië, Noorweë, Filippyne, Portugal en Italië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.