Nuwe premier vir Japan

Yoshihide Suga (Foto: AP Photo/Eugene Hoshiko)

Yoshihide Suga, die leier van die demokratiese party in Japan, is Woensdag verkies as dié land se 99ste premier nadat Shinzo Abe verlede maand om gesondheidsredes bedank het.

Suga, Abe se regterhand gedurende sy termyn, se aanwysing is deur Japan se tweekamerparlement goedgekeur wat beheer word deur die LDP en die junior koalisievennoot Komeito.

Suga (71) sal moontlik reeds deur die loop van die dag ʼn nuwe kabinet aanstel. Bestaande lede soos die Japanse minister van finansies, Taro Aso, en die land se minister van buitelandse sake, Toshimitsu Motegi, sal na verwagting herbenoem word.

“Ek sal ’n kabinet skep wat vir die mense werk,” het Suga met sy aanstelling as premier gesê.

Suga het as die Japanse hoofkabinetsekretaris gedien nadat Abe aan die einde van 2012 sy amp aanvaar het.

Yoshihide Suga pas nadat hy as premier van Japan aangewys is. (Foto: AP Photo/Koji Sasahara)

Maroela Media het vroeër berig Abe (65) het sy bedanking einde Augustus aangekondig. Die premier ly reeds jare lank aan ’n chroniese inflammatoriese dermsiekte en sy toestand het onlangs vererger.

“Ek het besluit dat ek nie as premier kan voortgaan nie. Ek moet teen die siekte baklei en gereeld behandeling ontvang,” het Abe met sy bedanking gesê.

Suga, wat die leisels by Abe te midde van die Covid-19-pandemie oorneem, het hom reeds daartoe verbind om as premier die verdere verspreiding van die koronavirus in Japan te voorkom asook werksgeleenthede te beskerm en die land se ekonomie te herstel.

Die Japanse ekonomie het ʼn rekordinkrimping van 28,1% in die tydperk van April tot Junie getoon. Dit was die derde agtereenvolgende kwartaallikse inkrimping vir Japan.

Suga het nog geen planne vir die herstel van dié land se ekonomie aangekondig nie hoewel hy reeds onderneem het om die land se Covid-19-toetskapasiteit op te skerp. Dít nadat sy voorganger vroeër vanjaar gekap is oor Japan se beperkte toetskapasiteit.

Japan het reeds meer as 77 000 bevestigde gevalle Covid-19 en sowat 1 480 verwante sterftes aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.