Nuwe regering, premier vir NS

Die nuwe premier van Nieu-Seeland, Chris Luxon (voor links) (Foto:
Christopher Luxon/X)

Die Nasionale Party het die Nieu-Seelandse verkiesing gewen en genoeg setels verower om ’n koalisie met sy sentrum-regse bondgenote te vorm. Die opposisieparty se leier, Chris Luxon, is as premier aangewys.

Luxon (53) het gesê dit is ’n “geweldige voorreg” om Sondag wakker te word as Nieu-Seeland se intredende premier terwyl hy gesprekke beplan om ’n nuwe koalisieregering te vorm.

Kiesers het Saterdag die ses jaar lange bewind van die Arbeidersregering beëindig toe Luxon se konserwatiewe Nasionale Party genoeg setels verower het om in ’n koalisie met die liberale ACT-party te regeer.

Die leier van die Arbeidersregering, Chris Hipkins, wat Jacinda Ardern in Januarie as eerste minister vervang het, het ’n nederlaag erken nadat sy party byna die helfte van hul aantal setels van die vorige verkiesing in 2020 verloor het.

Luxon het Sondag die media in ’n All Black-trui toegespreek.

“Dit is ’n goeie begin vir die dag wanneer jy ’n nasionale regering het en jy het die All Blacks wat weer gewen het,” het hy aan verslaggewers gesê.

Luxon, ’n voormalige lugdiensbestuurder wat in 2019 tot die politiek toegetree het, kan eers as premier oorneem nadat die finale verkiesingsuitslae op 3 November bekend gemaak is.

Die Nieu-Seelandse premier Chris Luxon (Foto:
The Conservative Patriot/X)

“Dit is ’n geweldige voorreg,” het hy geantwoord as die inkomende premier. “Ek het tot die politiek toegetree met die oog daarop om ’n bydrae tot Nieu-Seeland te lewer, ongelukkig omdat ons nie ons potensiaal verwesenlik nie. Daarom voel ek baie optimisties oor ons pad vorentoe.”

Luxon het gesê hy beplan ’n strategievergadering Sondag voor koalisiegesprekke.

In hul eerste 100 dae het die Nasionale Party veranderinge beloof soos ’n verbod op selfone in skole, ’n onderdrukking van misdaad en die ophef van beplande brandstofbelastingverhogings.

Met Nieu-Seeland in ’n lewenskostekrisis en misdaadsyfers wat toeneem, het Luxon erken dat hy “’n paar moeilike besluite” sal moet neem.

Die Nasionale Party het skoonskip by die stembus gemaak, maar ’n paar groot name het ook hul setels verloor.

Die minister van buitelandse sake, Nanaia Mahuta (53), het haar Hauraki-Waikato-setel aan die 21-jarige Hana-Rawhiti Maipi-Clarke van die Te Pati Maori-party afgestaan. Maipi-Clarke sal Nieu-Seeland se jongste LP in 170 jaar word.

Michael Wood, wat in Junie as minister van vervoer bedank het nadat hy versuim het om aandele in die Auckland-lughawe te verklaar, het sy Mt. Roskill-setel aan die nasionale kandidaat Carlos Cheung verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gaitsigubib ·

Die mense van NZ kan bly wees hulle het van van Jacinda Arden ontslae geraak. Die mag wat sy gehad het gedurende die covid inperkings het sy as wapen gebruik teen die mense van haar land. Ek hoop sy verander haar lewe en kom nooit weer in ‘n posisie van mag nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Soos sosialiste van SA gaan sy ‘n top by die VN kry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.