Oekraïne oorweeg neutraliteit ‘noukeurig’

(Foto: Aris Messinis/AFP)

Die Oekraïense president Wolodimir Zelenski sê Oekraïense onderhandelaars bestudeer Rusland se eis vir Oekraïense neutraliteit “noukeurig”.

Rusland het reeds voor sy inval van Oekraïne verlede maand daarop aangedring dat dié land afstand doen van sy verklaarde voorneme om uiteindelik by Navo aan te sluit. Die Kremlin het intussen gesê Swede en Oostenryk bied modelle van neutraliteit wat Oekraïne kan aanneem.

Oekraïne het die voorstel verwerp.

Tog het Zelenski Sondag aan verskeie onafhanklike Russiese nuusorganisasies gesê “hierdie punt van die onderhandelinge is vir my verstaanbaar en dit word bespreek”.

“Dit word noukeurig bestudeer.”

Zelenski het tydens sy onderhoude met Russiese verslaggewers die Russiese president Wladimir Poetin daarvan beskuldig dat hy onderhandelinge uitrek. Rusland se mediareguleerder het nou ook verslaggewers gewaarsku dat hulle ondersoek kan word sou hulle die onderhoude uitsaai.

Vredesonderhandelinge gaan voort

Die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski. (Foto: AFP/ Oekraïense presidensie)

Rusland en Oekraïne sal Maandag weer vredesonderhandelinge voortsit nadat verskeie rondtes van samesprekings reeds misluk het.

Zelenski meen die gesprekke behoort vrede “sonder versuim” te weeg te bring. Hy het reeds vroeër aangedui dat Oekraïne bereid is om oor die sensitiefste onderwerpe te praat.

Die lot van die Russies-besette Donbas-streek, die Krimskiereiland en die fundamentele meningsverskille oor Oekraïne se belyning met die Weste sal dus weer bespreek word.

“Ons doelwit is voor die hand liggend – vrede en die herstel van normale lewe in ons geboorteland so gou as moontlik,” het Zelenski Sondagaand in ’n videoboodskap gesê.

“Oekraïne se soewereiniteit en territoriale integriteit staan bo alle twyfel. Doeltreffende veiligheidswaarborge vir ons staat is verpligtend.”

Die VN beraam dat minstens 1 100 burgerlikes die afgelope maand gesterf het en meer as 10 miljoen mense verplaas is sedert Rusland se inval van Oekraïne.

Tweede Suid- en Noord-Korea?

Kyrylo Budanov, hoof van Oekraïne se verdedigingsintelligensie, sê Rusland sal moontlik ten doel hê om die land in weergawes van Noord- en Suid-Korea te verdeel.

“Daar is rede om te glo dat hy kan probeer om ʼn skeidingslyn tussen die besette en onbesette streke van ons land op te lê.”

Rusland se hoop om Oekraïne te beset het vervaag met Russiese troepe wat sukkel om vordering te maak in die sleutelstede.

Die land word intussen deur al meer sanksies in die gesig gestaar.

Die Allegro-sneltrein het Sondagaand vir die laaste keer van St. Petersburg na Helsinki in Finland vertrek. Dié rit het die sluiting van die laaste spoorverbinding tussen Rusland en die EU bevestig.

Dit volg nadat die Finse spoorwegoperateur VR Vrydag aangekondig het dat hy die Allegro-treindiens opskort. Die diens se treinkaartjies was die afgelope maand gereeld uitverkoop met Russe wat gretig is om uit hul land te vlug voordat Westerse sanksies vertrek byna onmoontlik maak.

Die Nederlandse brouer Heineken het ook Maandag aangekondig dat hy alle bande met Rusland gaan sny.

“Ons is diep geskok en hartseer om te sien hoe die oorlog in die Oekraïne aanhou ontvou en verskerp,” het die biermaatskappy in ʼn verklaring gesê.

Luidens die verklaring is daar besluit dat Heineken se eienaarskap van sy onderneming in Rusland nie meer volhoubaar of lewensvatbaar is in die huidige omgewing nie. “Ons het gevolglik besluit om Rusland te verlaat.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Marius ·

Daar is niemand so slim as die wat dink hulle weet iets nie. Die russe het baie skade aangerig en geboue vernietig, onder andere hospitale, skole ens. Vrouens en kinders word geteiken en vermoor. Dis natuurlik baie edel en iets op trots te wees… Miljoene mense het hul vryheid verloor en moes wegvlug agv van ‘n tiran. Hoe kan mens dit miskyk ?

VaalDonkie ·

Maar ek dog dan Rusland is besig om erg te verloor, so waarom worry Zelensky dan oor enige voorwaardes? Lieg iemand dalk vir ons oor hoe dit daar gaan?

piet ·

Lyk asof die “magtige” Rusland redelik sukkel. Die storie is nou al ‘n maand aan die gang. 7 Russiese generaals het al gesneuwel

Luister ·

Nee, hulle verloor nie, maar hulle wen ook nie. Hulle maak egter nog steeds burgerlikes dood wat Zelensky oor bekommer. Hoe onderhandel jy as jou bevolking gyselaar gehou word?

Manie ·

Beide die regerings van die Oekraïne en die VSA is net so aandadig aan die gemors as die Russe. Hoe kon die Oekraïne toelaat dat die VSA 26 laboratoriums vir die ontwikkeling van biologiese wapens in die Oekraïne oprig? Hulle het beide met die leeu se anatomie gespeel, hy het telkens gebrul en hulle gewaarsku, maar nou word kleinboet afgeknou terwyl grootboet weghol en hom alleen agterlaat om die prys daarvoor te betaal.

Kobie ·

Kan jy miskien jou bron met ons deel? Sal graag wil weet waar jy aan die informasie kom. Dalk Qanon?

Marthinus W ·

Rusland het die bewyse aan die VN oorhandig. Gaan vra bietjie vir Guterres waarom hy so partydig teen Rusland is; laat hy die bewyse bekend maak.

Thom ·

Volgens jou is enige medies navorsing dan ” ontwikkeling van biologiese wapens ?”

Anna-marie ·

Dit is die waarheid. Die hoofstroommedia hou hierdie dinge weg van die gewone mense.

Human ·

Wikipedia bans Daily Mail as ‘unreliable’ source. ‘Reputation for poor fact checking and sensationalism’.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.