Olimpiese Spele: Opening sal ‘ikonies’ wees, veiligheidsvrese ten spyt

(Foto: Ludovic Marin /AFP)

Thomas Bach, hoof van die Internasionale Olimpiese Komitee, beloof dat die openingseremonie van die Parys Spele op die Seine-rivier “ikonies en onvergeetlik” sal wees, ondanks toenemende kommer oor veiligheid by dié opelugparade.

Bach het Vrydag aan AFP gesê alle betrokke owerhede en organiseerders is professioneel en dat hy geensins twyfel dat almal – die atlete inkluis – veilig sal wees nie.

Die seremonie, wat op 26 Julie plaasvind, is as “uiters ambisieus” beskryf.

In plaas van die tradisionele benadering om aan die begin van die Spele ʼn parade deur die atletiekstadion te hou, gaan spanne op ʼn flottielje op die Seine-rivier vaar. Meer as 500 000 toeskouers sal die seremonie na verwagting bywoon.

Kommer oor veiligheid het egter bespiegelings laat ontstaan dat dié seremonie moontlik geskuif sal moet word.

Franse president Emmanuel Macron het verlede week gesê dit kan na die nasionale stadion, die Stade de France, skuif, hoewel plaaslike organiseerders nog altyd volgehou het dat dít nie ’n moontlikheid is nie.

“Almal is vasbeslote om hierdie openingseremonie op die Seine-rivier te hou, terwyl alle moontlike scenario’s terselfdertyd oorweeg word,” het Bach verduidelik.

Benewens die openingseremonie, hoop Bach dat die terugkeer van derduisende toeskouers na Parys ook sal help om die “Olimpiese gees te laat herleef” nadat die Covid-19-pandemie die laaste Spele in Tokio beduidend geraak het en atlete in leë stadions moes deelneem.

Oor die gemoedstemming in Frankryk en kritiek op die Spele daar, het hy gesê dit is “deels weens wêreldwye onsekerheid”.

“Dit hou nie net verband met die Olimpiese Spele nie. Dit is deel van ons tydsgees, want ons leef in onsekere tye. En daar is mense wat skepties is. Sommige is selfs bang. Sommige is bekommerd oor hul toekoms.

“En onder hierdie omstandighede kan jy bepaalde vrae en kritiek uit sommige oorde verstaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marthinus W ·

Solank as wat sekere lande se atlete nie mag deelneem nie, om politieke redes, is die Spele nikswerd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.