Omikron nou ook in Nigerië

(Argieffoto: Unsplash)

Die nuwe Omikron-variant is Woensdag ook in Nigerië, Afrika se digbevolkste land, bevestig nadat drie passasiers uit Suid-Afrika daarheen gereis het.

Volgens Ifedayo Adetifa, hoof van Nigerië se sentrum vir siektebeheer, doen wetenskaplikes nou nasporing oor hoe die virus moontlik verder versprei het. Die drie passasiers is reeds in isolasie geplaas.

“Omikron is wêreldwyd versprei. Daarom is dit ʼn geval van wanneer, nie óf nie ons meer gevalle sal identifiseer,” sê Adetifa.

Altesame 2 976 mense in Nigerië is reeds aan Covid-19 dood en 214 113 mense het tot dusver positief vir die virus getoets.

Die Wes-Afrika-land, die tuiste van ongeveer 210 miljoen mense, het inentingsveldtogte van stapel gestuur en vereis dat staatsamptenare ʼn bewys van inenting of ʼn negatiewe Covid-19-toets moet toon om openbare geboue binne te gaan.

Volgens Nigeriese owerhede bly inentingsyfers laag, met net meer as 3,5 miljoen mense wat twee dosisse en 6,5 miljoen mense wat reeds een dosis gekry het.

Die regering sê hy beplan om 112 miljoen (of 70%) van volwassenes teen die einde van volgende jaar in te ent.

Die Omikron-variant wat Suid-Afrika ʼn week gelede vir die eerste keer by die Wêreldgesondheidsorganisasie aangemeld het, het reeds vinnig wêreldwyd versprei. Talle lande het hul grense gesluit en reisbeperkings ingestel.

Nigerië het reeds van sy reismaatreëls verskerp en ʼn bykomende Covid-19-toets vir reisigers ingestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Baardman ·

Volgens die syfers hiebo is slegs 0,0014% van hule bevolking dus oorlede weens covid. Klink vir my maar min

Francois ·

Lyk my ons moet na Nigerië kyk hoe om COVID te beheer. Met ‘n bevolkingsdigtheid per vierkante km wat byna 4.5 keer hoër as Suid Afrika is, het Nigerië 92% minder positiewe gevalle en 97% minder sterftes tot dusver as Suid Afrika gehad.

Dawid ·

Ek bly hier in Nigerië, ons dra nie maskers nie, geen sanitasie nie. Ons lewe normaal. Was net eerste 3 weke toe covid begin het op lock down. Doen covid toets om uit te vlieg en moet negatiewe toets wys as weer terug kom. Moet binne 7 dae hier weer toets na aankoms en 2 dae as jy nie jab het nie.

VaalDonkie ·

Een van my spanlede is in Nigerie en hy was vir amper 4 weke buite aksie nadat hy die tweede “booster” gekry het. Nou, ek dink hy het COVID gevang kort nadat hy die booster gekry het. Ek dink nie die booster self het hom siek gemaak nie. Maar dit was nou ‘n skok want die ou is baie versigtig. Anyways, hy is darem nou oukei.

annie ·

Ek weet van nog mense wat baie siek was en steeds sukkel ná die 2e Pfizer-ent. Dalk is een oorgenoeg vir sommige mense.

Geregtigheid ·

ONGEVATE MENSE MAG NIE REIS NIE. HOE KOM DIE VIRUS UIT SUIDAFRIKA????

Keelvol ·

Lees eers die artikel deeglik voordat jy kommentaar lewer.

Dawid ·

Jy mag travel sonder die jab, net sommige lande vereis dit. Nigerië is bitter min gejab. Die meerderheid glo nie aan covid hier nie

Dirk Mostert ·

Aangesien omicron reeds wereldwyd voorkom, wat is die sin in internasionale reisbeperkings?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.