Onverwagte steun vir ma voor teregstelling

Melissa Lucio bid tydens ‘n vergadering met wetgewers. (Foto: Jeff Leach / AFP)

Die beplande teregstelling van ’n Amerikaanse ma – ter dood veroordeel in ’n omstrede saak vir die moord op haar kleuterdogtertjie – word wyd veroordeel.

Meer as 192 000 mense het reeds ’n petisie teen Melissa Lucio se teregstelling geteken terwyl die werklikheidster Kim Kardashian ook haar steun vir Lucio uitgespreek het. Hulle glo almal Lucio – ’n ma van 14 – is onskuldig en destyds deur die owerhede gedwing om skuld te beken.

Sou die owerhede later vandeesmaand met haar teregstelling voortgaan, sal Lucio die eerste Latyns‑Amerikaner wees om in die Amerikaanse deelstaat Texas tereggestel te word.

Klein Mariah se dood

Lucio sal na verwagting op 27 April tereggestel word vir die destydse moord op haar tweejarige dogtertjie Mariah Alvarez. Mariah se liggaampie is in 2007 by haar gesin se huis in die Amerikaanse deelstaat Texas gevind.

Paramedici is op 17 Februarie 2007 na dié huis in Harlingen ontbied. Klein Mariah was in dié stadium bewusteloos en het nie asem gehaal nie. Lucio het later aan die polisie gesê Mariah het aan die slaap geraak en net nie weer wakker geword nie. Sy is later in die hospitaal dood verklaar.

Mariah se liggaampie was oortrek met bloukolle.

Lucio se verweer was dat Mariah twee dae tevore by ’n steil trap afgeval het toe haar gesin na ’n nuwe woonstel verhuis het. Volgens Lucio het dit nie voorgekom of Mariah ernstige beserings tydens die val opgedoen het nie.

Volgens Lucio se prokureurs is sy ure ná klein Mariah se dood langer as vyf uur deur die polisie ondervra. Sy het meer as 100 keer aangedui dat sy onskuldig is voordat sy eindelik skuld beken het.

“Ek het dit seker gedoen,” was Lucio se woorde aan die polisie toe hul haar oor die kneusplekke uitgevra het.

Armando Villalobos, ’n voormalige distriksprokureur van Cameron County, wat nou ’n vonnis van 13 jaar vir omkopery en afpersing in ’n onverwante saak uitdien, het dié woorde tydens die verhoor as ’n bekentenis beskryf.

Lucio se prokureurs het egter aangevoer dat hul kliënt kwesbaar was aangesien sy in daardie stadium nie net oor haar kind se dood gerou het nie, maar ook met ’n tweeling swanger was, en haar lewe lank mishandeling verduur het.

Haar ander kinders het ook volgehou dat hulle ma nooit gewelddadig teenoor hulle was of haar hand vir hulle gelig het nie.

The Innocence Project, ’n niewinsorganisasie vir die hervorming van strafregspleging wat ten doel het om verkeerdelik veroordeelde persone vry te spreek deur DNS en ander bewyse te gebruik, het sedertdien by Lucio se regspan aangesluit.

Vanessa Potkin, direkteur van spesiale litigasie vir die organisasie, het aan ABC News gesê Lucio se skulderkenning “was ’n algehele gejaag na oordeel” aangespoor deur “hoogs manipulerende en dwingende” ondervraging en foutiewe forensiese ondersoeke.

“Ons het haar ondervraging deur vooraanstaande kundiges in ondervraging en valse bekentenisse laat hersien. En hulle het gevind dat haar verklarings heeltemal onbetroubaar is aangesien dit ’n blote herhaling is van die woorde wat die beamptes in die loop van vyf uur aan haar gevoer het.”

Onverwagte steun

Talle mense het van die saak te hore gekom sedert die uitreiking van die dokumentêr The State of Texas vs. Melissa in 2020 en hul steun vir Lucio uitgespreek.

Kardashian het verlede week aan haar tienmiljoene volgelinge getwiet dat daar “soveel onopgeloste vrae rakende hierdie saak en die bewyse wat gebruik is om haar skuldig te bevind, is”.

Lucio geniet ook steun van Amerikaanse Republikeine, tradisioneel verdedigers van doodstraf. Ongeveer 80 Texas-wetgewers van albei partye het geëis dat die owerhede die teregstelling staak.

Selfs een van die jurielede wat haar gevonnis het, het sy “diepe spyt” uitgespreek in ’n hoofartikel wat Sondag gepubliseer is.

Lucio het reeds al haar aansoeke om verlof tot appèl uitgeput. Haar regspan het as laaste uitweg in Maart ’n aansoek om genade by Texas-goewerneur Greg Abbott ingedien.

Abbott het die gesag om die teregstelling te vertraag terwyl die saak weer ondersoek word.

Bykomende bron: AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

ES ·

Nee, in Amerika is dit distriksprokureur. Amerika het ‘n Amerikaanse regstelsel en hul titels verskil van ons s’n. Ons het staatsaanklaers en hulle het distriksprokureurs.

Julius ·

As al die kinders sê sy was nooit gewelddadig nie, sal ek eerder die kinders se geteie aanvaar omdat hulle nie maklik sal lieg nie. Hoop sy word vrygespreek sodat sy kan rou oor haar kindtjie.

Misky ·

Klink ook nie asof die bewyse oorweldigend teen haar is nie en klink nie of sy skuldig is bo alle twyfel nie. Nou gaan 14 kinders sonder ‘n ma wees. Waar is die pa (of moontlik meer as een) gedurende al die dramas?

Nie Verbaas ·

Die Amerkaners is al bekend vir “onveilbare” getuienis wat onskuldige mense agter tralies laat beland.

Johan ·

Sê ñ duisend keer jy is onskuldig en jy word tot leunaar gemaak. Sê net een keer jy is skuldig en jy word onmiddelik geglo.

Janine ·

Hemel, die arme vrou was sekerlik moeg vir kinders kry! Waar is haar man? Waar is haar ondersteuningsnetwerk? Ek sou weghardloop! My hart breek vir haar! :'(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.