Oorskot in opgeveilde tasse dié van kinders

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Die menslike oorskot wat in reistasse in Auckland, Nieu-Seeland, gevind is, is dié van twee jong kinders.

Die kinders is in twee tasse van soortgelyke grootte versteek en is vandeesweek saam met ’n stooreenheid in Papatoetoe in die suide van Auckland opgeveil.

Speurder Tofilau Faamanuia Vaaelua sê die oorskot was waarskynlik al etlike jare in die tasse. Hy vermoed die slagoffers was tussen vyf en tien jaar oud toe hulle gesterf het.

Maroela Media het vroeër berig ʼn gesin wat Donderdag die stooreenheid gekoop het, het die oorskot in die tasse gevind. Die polisie glo nie die gesin was by die vermeende moord betrokke nie.

Die gesin is glo hewig ontsteld oor dié grusame ontdekking en ontvang die nodige trauma-ondersteuning.

Moeilike ondersoek

Volgens Vaaelua kompliseer die aard van die ontdekking die ondersoek.

“Dit is gegewe die groot tydsverloop tussen die kinders se dood en die ontdekking van hul oorskot,” het Vaaelua gesê.

“Daarom sukkel patoloë om die kinders deur middel van nadoodse ondersoeke te identifiseer. Die polisie baat ook nie veel by die kringtelevisiebeeldmateriaal nie, omdat sleuteloomblikke reeds uitgevee kon word.”

Die polisie in Nieu-Seeland werk ook nou saam met Interpol in die ondersoek. Die polisie het egter ʼn sterk vermoede dat die familielede van die slagoffers in die land woon.

Die die stooreenheid en die eiendom waarheen die tasse geneem is, is deeglik deur forensiese deskundiges ondersoek.

“Die ondersoekspan werk baie hard om die persoon of persone verantwoordelik vir die dood van hierdie kinders aanspreeklik te hou.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sandra ·

Dis tragies. Ek is nou nie ‘n speurder nie, maar die mense wat die stoor eenheid oorspronklik gehuur het van die stoor maatskappy moes sekerlik hul besonderhede gelos het? Ook van wie het die stoor maatskappy betaling ontvang, tot en met die huurders ophou betaal het, wat die eienaars genoop het om die inhoud op te veil? Die speurders kan dit mos gebruik as ‘n begin punt.

Mel84 ·

In die vorige berig se hulle die persoon wat die stoor gehuur het het lank nie sy rekening betaal nie – ek hoop van harte dit beteken nie dat die persoon dalk oorlede is of so iets nie. Want in so geval – hoe gaan mens die waarheid werklik weet?

Wolkie ·

Begin by wie se stooreenheid dit was. indien oorlede sy naasbestaandes. dis tog net hulle wat toegang tot die stooreenheid gehad het? Ai dis verskriklik hartseer om te dink wat aan kinders gedoen word. Ek hoop die Polisie spoor hulle naasbestaandes op dat hulle berusting kan vind.

Eden ·

Daar gebeur ook snaakse goed op die eilandjie deesdae. Dalk iets te doen met die kommie regering daar wat graag mense wil beheer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.