Oorskot van ‘nie-menslike wesens’ aan Mexikaanse kongres gewys

Die oorskot van ʼn beweerde “nie-menslike wesen” word uitgestal tydens ’n spesiale sitting van die Mexikaanse kongres.
(Foto: Mexikaanse kongres/AFP)

Die vertoon van die beweerde oorskot van twee “nie-menslike wesens” tydens ’n spesiale sitting van die Mexikaanse kongres, het tot ʼn mengsel van verbasing, ongeloof en bespotting op sosiale media gelei.

Die beweerde gemummifiseerde oorblyfsels is Dinsdag in twee klein vertoonkaste uitgestal toe die Mexikaanse kongres die kwessie van moontlike buiteruimtelike lewe die eerste keer amptelik bespreek het.

Die beweerde oorskot, wat ʼn gryserige kleur en gelaatstrekke soortgelyk aan mense het, is deur Jaime Maussan, ʼn omstrede Mexikaanse joernalis en navorser, by die kongres ingebring. Hy voer aan dat die oorskot in 2017 in Peru gevind is.

Maussan het gesê die nasionale outonome universiteit van Mexiko het ʼn koolstofdateringsontleding op die oorskot gedoen wat getoon het “hierdie wesens is ongeveer 1 000 jaar oud”. Die universiteit se fisika-instituut het in ʼn verklaring bevestig dat hy toetse uitgevoer het, maar net om die ouderdom te bepaal en nie die oorsprong van die monsters nie.

Die oorskot van beweerde “nie-menslike wesens” word uitgestal tydens ’n spesiale sitting van die Mexikaanse kongres.
(Foto: Mexikaanse kongres/AFP)

Die Amerikaanse ruimte-agentskap Nasa het hom intussen amptelik by die soektog na vreemde vlieënde voorwerpe aangesluit.

Mark McInerney is as direkteur van navorsing na ongeïdentifiseerde anomalieë (UAP) aangestel. Dit volg na ʼn jaar lange Nasa-feiteverslag oor wat dit “ongeïdentifiseerde anomalieë”, of dan UAP noem. ʼn Onafhanklike span van 16 navorsers het in die verslag tot die gevolgtrekking gekom dat die soektog ʼn “ʼn streng, bewysgebaseerde benadering vereis”.

Nasa het egter in sy verslag beklemtoon dat enige bevindinge oor moontlike buiteruimtelike oorsprong “die hipotese van laaste uitweg moet wees – die antwoord waarna ons ons eers wend nadat ons alle ander moontlikhede uitgesluit het”.

Volgens die verslag is daar meer 800 “gebeurtenisse” oor 27 jaar ingesamel, waarvan 2 tot 5% vermoedelik moontlik onreëlmatig is. Dit word gedefinieer as “enigiets wat nie geredelik verstaanbaar is nie”, of “iets wat vreemd aandoen”.

Die Amerikaanse regering het die afgelope paar jaar UAP-kwessies ernstiger begin opneem, deels weens kommer dat dit verband hou met spioenasie.

In Julie het ʼn voormalige Amerikaanse intelligensiebeampte opspraak verwek toe hy aan ʼn kongreskomitee gesê het hy glo “absoluut” die regering is in besit van ongeïdentifiseerde anomalieë – sowel as die oorskot van hul buiteruimtelike operateurs.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

47 Kommentare

Porseleintjie ·

Hou die klem op “beweerde menslike oorskot”. Dink hulle werklik mense in vandag se lewe is vertraag?

Cherokee ·

Porseleintjie, waarom verander jy die woorde van die beriggewer? Dit is immers geskryf as ‘nie-menslike wesens’, en jy en jou duimopper(s) verander dit na ‘menslik’. Jy kan nie ooglopend veranderings aanbring soos jy wil nie.

Porseleintjie ·

Cherokee dit gaan nie so seer oor die menslike of nie menslike oorskot nie. Eerder die foto. En die snert daarmee saam. Sou jy die tekens vd tye verstaan sou jy presies die agenda daaragter verstaan het

Cherokee ·

Porseleintjie, net soos Ryan is ek ook nuuskierig oor hoe presies jy dit koppel aan die tekens van die tye. Ek vra dit nie krities nie, maar slegs omdat ek baie graag jou siening daaroor wil hoor.

Marcha ·

Dis iets waaroor ek gereeld aan dink, meer as wat ek moet.
Is daar lewe op ander planete of selfs in die heelal of is ons alleen?

Manie ·

Ek glo vir geen oomblik dat Aarde die enigste lewe huisves nie, die res is net baie vêr voor ons.

Jakkie ·

Goed Mnr/Juf Rottenmeier. As ek ‘n les wou hê sou ek daarvoor betaal het.

Mnr De Beer ·

Nou die dag toe ek diep in die bottel kyk. Toe sien ek ook n mars mannetjie loop op my huis se dak en skree “whooo whooo, whoooo whooo”. Ek het myself skoon wakker geskrik en besluit om hom met n kettie probeer raak te skiet. Alhoewel ek amper raak geskiet het het die mars mannetjie besluit om weg te gaan. Glo my die mars mannetjies wendel op die aarde.

Koos 100 ·

Marcha, ek dink dit sal werklik astronomies en arogant wees as ons dink ons is die enigste lewe in die heelal. Ons kon nog nie eers uit ons eie sterrestelsel sien nie, wat nog bepaal wat daar is.

Jakkie ·

Arogant? Nee ek dink nie so nie. Ek glo wat die bybel ons geleer het. Daar staan in Genesis God het Adam en Eva gemaak. En nie Adam, Eva en E.T nie.

Nommer 7 ·

Waar daar koolstof is (die boustene van lewe), en die omstandighede is gunstig, sal daar lewe wees. Met die biljoene planete in die hemelruim is die waarskynlikheid baie groot. Weens die afstande sal ons egter nooit weet nie.

Porseleintjie ·

Marcha gaan bestudeer die Woord. Op aarde is lewe deur God geskep. Jesus was tog op aarde.

Nommer 7 ·

God het spasie, tyd en materie geskape (space, time and matter) Die Vader, Seun en Heilige Gees is dus regoor die heelal teenwoordig, nie net op aarde nie. Wat op aarde geskape is, kan dus ook op ander planete bestaan.

Phillip ·

As Mount Everest uit appels gemaak sou word, gaan daar net in een appel ‘n wurm wees?

Adriaan ·

Dit sal arrogant van ons wees om te dink ons is die enigste lewende wesens in hierdie heelal.

Anel ·

O, gonna, hoe lekker het nou gelag!!! Dat mense sulke snert kan glo!!!

Cherokee ·

Dit kan ‘n buiteruimtelike debat laat onstaan. Ek self het ongeïdentifiseerde voorwerpe gesien, waarna kort daarna in lokale koerente verwys is, met fotos. Dit is myns insiens meer as bloot logies om te dink dat daar intelligente lewe elders in hierdie grote heelal kan wees, en ek dink nie dat dit onbybels is om dit as ‘n moontlikheid te beskou nie. Dit kan nie net verwerp word sonder om woordeliks te sê waarom dit nie as ‘n moontlikheid beskou word nie. Die moontlikhede daarvoor is immers soveel groter as om dit teë te staan. En ek sê weer dat ek nie dink dat dit teen die Skrif is om dit as ‘n moontlikheid te beskou.

Koen ·

Altyd waserige beelde. Shame ou. Was jy nie dalk ook op gebeam nie. Jy gaan eendag moet verduidelik by die oordeelsdag.

Cherokee ·

Dankie Ryan. Hy besef nie eens hoe vermetel hy is om so ‘n stelling te maak, nie.

Atta ·

Cherokee, jy verwys na die Bybel. Die Bybel verduidelik hoekom daar sonde en dood is: Adam se skuld. Die Bybel verduidelik ook wat God gedoen het om ons verhouding met Hom reg te stel: Jesus Christus dra plaasvervangend ons skuld aan die kruis. Watse nadeel hou Adam se sonde, en watse voordeel hou Jesus se kruisdood vir groen mannetjies op planeet X in?

Johann ·

Klink soos die ANC regering. Vreemde wesens besig met vreemde onverklaarbare dinge. En dan lyk sommige van hulle maar al te vreemd as hulle die gehate koloniale leefstyl aanpak….of aan rok. Of aan hoed…

miche ·

Vir interessantheid, google
Kalahari UFO crash en Swartkops Airforce Base, Valhalla – UFO’s/Aliens.
Laat mens nogal dink…

Porseleintjie ·

Google sal jou baie dinge wys maak. Hartseer is mense glo dit eerder as wat hulle die Woord van God glo.

ES ·

Jy bedoel James van Greunen wat stories opgemaak het en dokumente vervals het vir bietjie sensasie? Need wat miche, jy moenie als glo wat jy lees nie. Daar is werklike onbekende en vreemde dinge wat nie verduidelikings het nie maar Kalahari UFO crash ens is bog.

Jan ·

As ek na sommige van ons ministers kyk, twyfel ek nie aan vreemde wesens nie

Charles ·

My grootste bekommernis is dat as hulle besluit om eendag te kom land op aarde en vra ” Take us to your leaders”.

Josua ·

Wat n klomp bollie en steeds glo menste die snert!!!! Ja mense ons is nie die enigste mense in die heelal nie die Woord het dit tog duidelik gestel, God en sy Engele is die hele heelal vol en woon om ons dekades lankal soos hier op Aarde die verskil is dat ons klein gelowig is om hulle raak te sien maar, as jou geloof wel sterk genoeg is sal jy hulle wel op wonderlike maniere ervaar en dit is hier waar die sleutel lê, die mensdom soek gereeld sensasie of n lekker storie te verspry en sal enige snert op dis om dit te kry. Ongelukkig die mense wat die sogenaamde Aliens soek en kamtig kry ken nie God, Jesus in hul lewe nie en verwerp Hom waar hulle kan en daarom is die tyd nog nie gereed dat onse Vader Hom en sy Engele aan ons ten toon gaan stel nie. Die dag wanneer dit wel gaan gebeur gaan die ongelowige wel hul Aliens sien maar gaan verras word omdat hulle werklik soos ek en jy lyk maar nie aanvaar word nie want dit moet mos een of ander misvormde gedoente wees.

JohanR ·

Snert gebeur elke dag in die SA parlement, maar hulle het darem nog nie twee kaders in kassies uitgele nie!

Aanhouer ·

HELLO ET!! Op ñ oorsese blad gesien dat die een skelet …kop en al, presies soos onse ET lyk.

J. J. ·

Iemand het seker ET se nefie in die hande gekry na hulle die fliek klaar gemaak het????

Marthinus W ·

Shakespeare het gese, as ek kan parafraseer: “There are more things in heaven and earth, than are dreamt of in our philosophy”. Ek het n UFO in Clarens omtrent 1971/72 gesien [my oupa se huis was heelbo teen die berg, en net die munisipaliteit en polisie het elektrisiteit gehad; niemand het daarop ag geslaan nie, want hulle het nie geweet van sulke dinge nie.]

Die joernalis hierbo vertel dat die artefakte in n myn in Peru gevind is. Dis nie vanuit n ruimteskip of iets gehaal nie. Die amerikas, veral sentraal- en Suid-Amerika is nogal ongewoon. Daar is bv antieke beelde wat die gesig van n Afrikaan het, of selfs n beeld met Japanese gelaatstrekke. dan is daar die beelde in die Nazca-woestyn wat net vanuit die lug gesien kan word.

TrueMan ·

Ek dink nou aan die John Carpenter fliek “They Live”. Many a true word spoken in jest.

Linda ·

Snaaks die buite ruimte wesens doen net Amerika aan, asof hulle die Alfa en Omega van die Aarde is tot in die buitenste ruim. Hoekom is daar nie sulke oorskot in Australië wat ook grrot ruimtes het vir hulle pierings om te land nie, of Rusland of Afrika nie. Of is dit die heroiën plantasies van Mexico wat hulle so aantrek uit die buite ruimte uit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.