Orkaan Ian nou ‘uiters gevaarlike’ storm

Die lug kort nadat orkaan Ian in Havana, Kuba, gewoed het. (Foto: YAMIL LAGE / AFP)

Orkaan Ian het nou tot ʼn “uiters gevaarlike” kategorie 4-storm versterk, het die VSA se nasionale orkaansentrum Woensdag aangekondig.

“Heel onlangse data van ’n Air Force Reserve Hurricane Hunter-vliegtuig dui daarop dat die maksimum volgehoue wind tot byna 220 km/h mét rukwinde toegeneem het,” sê die orkaansentrum.

Orkaan Ian was teen Woensdagoggend nog sterk op pad na die Amerikaanse deelstaat Florida nadat dit Dinsdag die lewe van twee mense in Kuba geëis en miljoene ander op dié eiland sonder elektrisiteit gelaat het.

Die storm sal Florida na verwagting later vandag tref voordat dit oor die sentrale dele van Florida sal beweeg en teen Donderdag die westelike Atlantiese Oseaan bereik.

“Katastrofiese oorstromings word oor gedeeltes van Sentraal-Florida verwag, met aansienlike oorstromings in die suide van Florida, die noorde van Florida, en die suidoostelike dele van Georgia en aan die kus van Suid-Carolina,” waarsku die orkaansentrum nou.

Ron DeSantis, goewerneur van Florida, het Dinsdagaand gesê minstens twee “radar-aangeduide tornado’s” is reeds in die staat aangemeld. Die goewerneur het diegene in gebiede wat na verwagting die hardste getref gaan word, gewaarsku dat hul “geleentheid om die plek te verlaat tot ʼn einde kom”.

“Jy moet nóú die plek verlaat. Jy gaan betreklik gou die groot impak van hierdie storm begin voel,” het DeSantis gewaarsku.

Ook die Amerikaanse president, Joe Biden, het vroeër gewaarsku dat orkaan Ian lewensgevaarlik en verwoestend kan wees. Volgens die Pentagon is 3 200 nasionale wagte reeds in Florida ontplooi, met nog 1 800 op pad.

Groot skade in Kuba

‘n Kragpaal in Kuba nadat orkaan Ian getref het. (Foto: ADALBERTO ROQUE / AFP)

Kubane was Dinsdag in duisternis gedompel nadat die orkaan vyf uur lank as ’n kategorie 3-storm in dié land gewoed het.

Die storm het Kuba se kragnetwerk beskadig en die eiland “sonder elektriese diens gelaat,” het die staatselektrisiteitsmaatskappy Union Electrica gesê.

“Verlatenheid en verwoesting. Dit was vreesaanjaende ure. Hier is niks oor nie,” het ʼn 70-jarige inwoner ná die storm aan sy joernalis-seun gesê.

Volgens Kubaanse staatsmedia is minstens twee mense in die Pinar del Rio-provinsie dood as gevolg van die storm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Phillip ·

Want dis nuus en inligting vir die geliefdes wat hier bly dis hoekom dit belangrik is vir sulke nuus

Henri ·

“Die storm het Kuba se kragnetwerk beskadig en die eiland “sonder elektriese diens gelaat,” het die staatselektrisiteitsmaatskappy Union Electrica gesê.”

Gaan Eskom nou genoop word om daar te gaan help of was hulle reeds daar???

annie ·

Familie daar het opgepak en gegroet. Ons hier ken nie van sulke drama nie. Hier plak ons op verkeerde plekke en groet eers by die grafte. Eintlik is ons baie geseënd wat sulke natuurlike rampe betref. Ons verkies skynbaar mensgemaaktes.

Wildemien ·

In SA gaan ons daagliks gebuk onder Orkaan Cyril, Orkaan Gwede, Orkaan Nkosasana, Orkaan Bheki, Orkaan Juliaaaaas, ens

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.