Orkaan Idalia versterk selfs verder

‘n Storm op die horison. Mense staan op die strand by Tampa, Florida, in die VSA terwyl orkaan Idalia op pad is. (Foto: Michael J. Rodriguez Carillo/AFP)

Orkaan Idalia het Woensdag selfs verder versterk en is verwoed op pad na die noordweste van Florida in die VSA. Die storm kan “katastrofiese” gevolge inhou en amptenare waarsku dit kan die kus binne ure tref as ʼn uiterste en historiese kategorie 4-storm.

Die owerhede in dié suidelike Amerikaanse staat het Idalia en sy moontlik rampspoedige storm as ʼn eens-in-ʼn-leeftyd-gebeurtenis vir Florida se noordwestelike kus beskryf. Opdrag vir massaontruimings is reeds gegee en vloedwaarskuwings is uitgestuur.

Die Amerikaanse Nasionale Orkaansentrum (NHC) sê Idalia, wat vroeër raak-raak verby Kuba is, het tot ʼn kategorie 3-vlak versterk met maksimum volgehoue windsnelhede van amper 195km/h.

“Daar word voorspel dat dit selfs verder gaan versterk en Idalia gaan na verwagting ʼn kategorie 4-orkaan wees voor dit die Big Bend-gebied van Florida tref,” het die agentskap in ʼn waarskuwing gesê.

“Idalia gaan waarskynlik steeds ʼn orkaan wees terwyl dit oor die suide van Georgia beweeg en moontlik wanneer dit die kus van Georgia of die suide van Suid-Carolina later vandag tref.”

Warm water in die Golf van Mexiko dien boonop as ʼn sogenaamde turbo-aanjaer vir Idalia.

Die owerhede waarsku ook teen rampspoedige stormgolwe in sommige kusgebiede.

“Baie min mens kan in die pad van ʼn hierdie golwe oorleef en die storm gaan rampspoedig wees as ons nie uit sy pad kan kom en dit ernstig opneem nie,” sê Deanne Criswell, hoof van die federale noodbestuursagentskap.

Storms van kategorie 3 of hoër op die vyfvlak Saffir-Simpson-skaal word as groot weergebeurtenisse beskou.

In die klein kusdorpie Steinhatchee berei inwoners voor op die ergste. Daar is ook besonder groot kommer oor die nabygeleë stede Tampa en St. Petersburg, deel van metropolitaanse gebiede wat die tuiste van meer as drie miljoen mense is.

Sommige dele van Florida loop reeds onder Idalia deur, met oorstromings wat in Fort Myers-strand, suid van Tampa, aangemeld is.

Gaan nóú

Inwoners van Havana, Kuba, ry deur die stad se oorstroomde strate. Idalia het Kuba as ‘n tropiese storm getref. (Foto: Yamil Lage/AFP)

Goewerneur Ron DeSantis het by diegene in die ontruimingsgebiede in 23 distrikte langs Florida se kus gepleit om “nóú” buite die gevaarsone skuiling te gaan soek.

Die Amerikaanse presidentskandidaat sê die orkaan lyk of dit die kragtigste gaan wees wat die streek in meer as ʼn eeu tref.

Meteoroloë verwys ook na ʼn skaars, blou supermaan wat die gety verder kan laat styg terwyl Idalia reeds die kusgebied teister.

Byna 150 mense is verlede jaar dood toe Orkaan Ian Florida se weskus as ʼn verwoestende kategorie 4-storm getref het. Dit het massiewe golwe en sterk wind meegebring wat brûe laat ineenstort en geboue weggevee het.

Idalia sal die vasteland na verwagting tref in die sogenaamde Big Bend-streek wat, anders as ander kusgebiede in Florida, nie buffereilande het nie.

Die storm kan tot 30 cm reën in Florida laat neerstort en kan kitsvloede en oorstromings in stedelike gebiede veroorsaak.

Die Amerikaanse president Joe Biden het Maandag met DeSantis beraadslaag en ʼn noodverklaring vir Florida goedgekeur. Dit stel federale geld en hulpbronne beskikbaar. Honderde nooddienswerkers is ook reeds in die gebied ontplooi.

Die Tampa-lughawe is gesluit in afwagting van Idalia se aankoms en vlugte aan die Amerikaanse ooskus is reeds ontwrig terwyl nog ʼn orkaan, Franklin, in die Atlantiese gebied woed.

Wetenskaplikes waarsku al geruime tyd dat storms al hoe kragtiger word namate die wêreld weens klimaatsverandering warmer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

amapinki ·

“Wetenskaplikes waarsku al geruime tyd dat storms al hoe kragtiger word namate die wêreld weens klimaatsverandering warmer word.”
Jesus het hulle geantwoord: “Pasop dat niemand julle mislei nie. Al hierdie dinge is die begin van die geboortepyne.
Matteus 24:4‭, ‬8 AFR20

Christof ·

Daar is dan seker al 1000de jare geboortepyne! Natuur rampe is so deel van die mens en aarde se geskiedenis soos virusse en bakterië.

amapinki ·

Vir die siende blindes: Wat gebeur met geboortepyne?….die krampe kom al hoe vinniger en sterker. Net so met die natuurrampe, net so met die oorloë ens. Ons is in die laaste dae. Jesus het ons gewaarsku van die tekens voor Sy wederkoms in Matt. 24. Maak oop die Bybel en lees die NT en Openbaring. Jesus het ons ook gewaarsku om nie mislei te word nie en daar is alreeds soveel Christene mislei, maar hoor is min.

Republikein in die Wes Kaap ·

Wees rustig. Ons het nog miljarde jare voor ons. Die laaste miljard jaar sal moeilik wees. Die son gaan geleidelik groter word en al die planete verswelg. Dan gaan die son krimp soos ‘n flou paraffien lampie. Die goeie nuus is dat nuwe sonne gaan gevorm word, met planete en mane.

Jakkie ·

Hoe weet jy daar is nog soveel jare oor. Niemand weet wanneer die wederkoms is nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die son het ongeveer 5 – 8 miljard oor. Dit het die son ongeveer 50 tot100 miljoen jaar geneem om volwasse te word. ‘n Ander ster se einde het aanleiding gee tot massiewe skokgolwe wat stowwe saam gepers het om die son te vorm.

Faraway ·

Christof dis ook waar wat jy sê…
Wat nog n groter waarheid is is die WOORD wat sê Let op hierdie dinge….
Die WEDERKOMS word voorafgegaan deur tekens van die tye
Maak erns met jou ewige toekoms!

skurweberg ·

Daar is iets soos ‘n katestrofiese waarskuwing. Dit gebeur gewoonlik as dit te laat is om reeling te tref of jou huis en lewe in orde te kry.

Christof ·

Ag bog man! Bewys dit? Hoeveel erger is vandag se rampe as 100/1000/miljoen jaar terug?
Asook die ding van mense sal ‘plesier meer lief het as God’ Die Romeinse Ryk het Pompei die Plesierstad gehad en hulle was verslaaf aan seks tussen man en man vrou en vrou asook groepseks. Daar was tempels vir dit en was in publiek be oefen. So as dit n teken van die eindtyd was dan kan dit NOG 2000 jaar neem vir die wederkoms

Republikein in die Wes Kaap ·

Die plek was gebou op ‘n onstabiele geologiese plaat en naby ‘n vulkaan. Dit was nie ‘n goeie plan nie. Net so dom as om stede in Kalifornië, Hawaii, Turkeye en New Zeeland te bou.

Bolandse Nooi ·

Shame, die arme mense … maar – terselfdertyd – dit is “hurricane season” in die suidelike dele van die VSA en globale verwarming is al hoe meer duidelik in die patrone van die weer wat onvoorspelbaar en selfs moorddadig is!

Riana ·

amapinki …………………..Ek stem 100% saam met jou. Hou die olie lampe vol olie , Sy koms is naby

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.