Oseane verlede maand warmer as enige ander Mei

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Oseane oor die hele wêreld heen was verlede maand warmer as enige ander aangetekende Mei en dié rekords strek vanaf die vroeë 1990’s.

Seetemperature op ʼn diepte van ongeveer 10 m was verlede maand ʼn kwart van ʼn graad Celsius hoër as die gemiddelde seetemperature van 1991 tot 2020, het die Europese Unie se klimaatmoniteringseenheid Woensdag gesê.

Volgens Samantha Burgess van die Copernicus Climate Change Service het langtermyn-tendense binne 40 jaar 0,6 grade Celcius by die see se oppervlakwater gevoeg.

Daar word boonop verwag dat temperature oor die see in die komende maande selfs nóg sal styg namate die El Niño-weerverskynsel sy verskyning oor die ekwatoriale Stille Oseaan maak, sê Burgess met verwysing na ʼn periodieke, natuurlike verskuiwing in seewinde wat die verwarming wêreldwyd verhoog.

Dit is ook nie net die see wat deesdae warmer is nie.

Burgess sê die oppervlak van die aarde is gemiddeld 1,2 °C warmer as voor-industriële vlakke.

Dié bevindinge is gegrond op rekenaargeskepte modelle wat in miljarde metings van satelliete, skepe, vliegtuie en weerstasies wêreldwyd gebruik word.

Die Wêreld- Meteorologiese Organisasie (WMO) het vroeër vandeesmaand gesê daar is ʼn 60%-kans dat ʼn El Niño voor die einde van Julie sal vorm, en ʼn 80%-verandering in weerpatrone teen einde November.

Die meeste van die warmste aangetekende jare het tydens El Niño’s plaasgevind, en wetenskaplikes is bekommerd oor rekordtemperature op land en in die see oor die volgende twee somers.

In Antarktika het see-ys intussen vir die derde keer vanjaar ʼn maandelikse rekordlaagtepunt bereik, met satellietdata wat toon dat dit in Mei 17% onder die gemiddelde was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danie ·

Die temperature, van die oseane is die hoogste sover vir die afgelope 33 jaar. Wat was die temperature van Mei 2000 jaar gelede? Statisties is ‘n steekproef van 33 vs 2000 nie regtig noemenswaardig nie. Jy kan uiters ingewikkelde rekenaar modelle op 33 jaar nou. Maar jy gaan seker ook omtrent 2000 aannames daarby moet voeg. Sodat die model by jou teorie moet pas. En dit is die probleem. ‘n Model wys net dit wat jy wil hê dit moet wys. Jy stel die filters. JY maak die aannames. Die model is dis altyd subjektief.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.