Pentagon Papers: Fluitjieblaser sterf

Daniel Ellsberg (Foto: NICHOLAS KAMM / AFP)

Daniel Ellsberg, die fluitjieblaser wat geheime dokumente, later bekend as die sogenaamde Pentagon Papers oor die Viëtnam-oorlog, uitgelek het, is vroeër die naweek dood. Hy was 92 jaar oud.

Ellsberg was ’n militêre ontleder toe hy in 1971 duisende dokumente aan die Amerikaanse media verskaf het wat onthul het dat opeenvolgende Amerikaanse administrasies vir die publiek oor die oorlog in Viëtnam gejok het.

Die 7 000 geklassifiseerde bladsye het getoon dat, in teenstelling met Amerikaanse regeringsamptenare se bewerings, die konflik nie militêr gewen kon word nie.

Die verhaal oor die destydse uitlek en publisering van die Pentagon Papers word in die 2017 Hollywood-riller The Post vertel.

’n Bejaarde Ellsberg het in Maart vanjaar aangekondig dat dokters hom op 17 Februarie meegedeel het dat hy terminale pankreaskanker het en net sowat ses maande oor het om te leef.

“Hy het nie pyn gehad nie, en was omring deur liefdevolle familie,” het sy vrou en kinders ná sy dood Vrydag in ’n verklaring gesê.

Die New York Times het aanvanklik destyds uittreksels van die Pentagon-dokumente gepubliseer. President Richard Nixon se administrasie het egter ’n hofbevel bekom wat dié koerant verbied het om daarmee voort te gaan.

Die Washington Post het dit toe op hom geneem om die waarheid aan die publiek te vertel.

Ellsberg is ingevolge Amerika se Spioenasiewet aangekla, maar die verhoor is in 1973 as ’n wanverhoor verklaar nadat die onwettige insameling van bewyse deur die regering aan die lig gekom het.

‘Geskiedenisveranderende optrede’

Ellsberg het ná sy kankerdiagnose besin oor sy destydse besluit om die dokumente uit te lek.

“Toe ek in 1969 kopieë van die Pentagon Papers gemaak het, het ek alle rede gehad om te dink ek sou die res van my lewe agter tralies deurbring.

“Dit was ’n lot wat ek met graagte sou aanvaar het, sou dit beteken het dat die einde van die Viëtnam-oorlog vroeër sou wees, so onwaarskynlik soos dit gelyk het (en was).

“Tog het daardie optrede op die ou end – op maniere wat ek nie kon voorsien nie weens Nixon se onregmatige optrede – wel ’n impak gehad op die verkorting van die oorlog,” het Ellsberg gesê.

“Daniël was ’n soeker na die waarheid en ’n patriotiese waarheidverteller, ’n anti-oorlogsaktivis, ’n geliefde eggenoot, pa, oupa en oupagrootjie, ’n dierbare vriend vir baie, en ’n inspirasie vir nog vele meer mense. Hy sal baie gemis word deur ons almal,” het sy familie ná sy dood gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.