Pienk knewel van 108 karaat in Lesotho gevind

Dié uiters skaars intense pienk diamant is by die Kao-myn in Lesotho uitgehaal. (Foto: Storm Mountain Diamonds)

ʼn Uiters skaars intense pienk diamant – boonop een van die grootste wat nog ooit gevind is – is by die Kao-myn in Lesotho uitgehaal. Die diamant weeg 108,39 karaat.

Die maatskappy Storm Mountain Diamonds het dié skouspelagtige vonds reeds in Maart by sy Kao-myn gemaak en die diamant word beskryf as ʼn seldsame tipe IIa-edelsteen.

Dit is egter nie die eerste keer dat die Kao-diamantmyn ʼn uitsonderlike pienk diamant oplewer nie.

Ander merkwaardige vondste sluit in ʼn pienk diamant van 47,81 karaat wat bekend staan as Pink Eternity en wat verlede jaar uitgehaal is, die Pink Palesa van 21,68 karaat wat in 2021 gevind is, die Pink Dawn van 25,97 karaat wat in 2020 gevind is en die Rose of Kao (29,59 karaat) wat in 2018 gevind is.

Storm Mountain Diamonds sê sy jongste vonds beklemtoon opnuut die Kao-myn se posisie as een van die wêreld se belangrikste bronne van besonderse pienk diamante.

Mohlomi Moleko, minister van natuurlike hulpbronne in Lesotho, sê die diamant is een van die noemenswaardigste wat tot nog in die bergkoninkryk gevind is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann ·

Ek sien al hoe die massas op daai area toesak en hulle claims gaan afsteek en myn.

Niklaas ·

Nou kan dit inspirasie wees vir die onwettige myners (Zamma zammas) van Lesotho , tans in SA , om vinnig terug te keer en daar begin met hul skofte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.