Pulitzers uitgedeel vir Oekraïne-mediadekking

Evgeniy Maloletka van Associated Press het verlede jaar dié aangrypende foto in Marioepol geneem.

Die gesogte jaarlikse Pulitzer-pryse is Maandag in New York aangekondig en joernaliste het vanjaar skoonskip gemaak met hul dekking van die voortslepende oorlog in Oekraïne.

Associated Press het die toekenning vir openbare diens – algemeen beskou as die topprys – verower vir dié nuusagentskap se “moedige” beriggewing oor die beleg van die Oekraïense hawestad Marioepol.

Dié internasionale nuusagentskap het ook die toekenning vir brekende nuusfotografie gewen vir sy “unieke en dringende foto’s” van die eerste weke van die konflik in Februarie verlede jaar.

The New York Times het weer in die kategorie internasionale verslaggewing gewen vir sy “onkreukbare” dekking van die konflik in Oekraïne. Dit sluit in ʼn agt maande lange nuusondersoek na Oekraïense sterftes in die stad Bucha.

Argieffoto van die konflik in Oekraïne. (1 Maart, Kharkiv) (Foto: Sergey BOBOK / AFP)

Ander Pulitzers

Die Pulitzer vir brekende nuus het Maandag aan die Los Angeles Times gegaan vir sy onthulling van ʼn gesprek tussen plaaslike raadslede wat rassistiese opmerkings ingesluit het. Dié gesprek is in Oktober 2021 in die geheim opgeneem en ʼn jaar later uitgelek.

Joernaliste by The Wall Street Journal het die toekenning vir ondersoekende verslaggewing gewen vir hul ondersoek na die finansiële botsing van belange onder federale amptenare by 50 regeringsagentskappe.

AL.com, ʼn nuuskantoor in die suidelike deelstaat Alabama, het twee toekennings huis toe geneem, waaronder die plaaslike verslaggewingprys vir die onthulling van hoe die plaaslike polisiemag van Brookside inwoners gebruik het om sy inkomste op te stoot. AL.com het ook die kommentaar-toekenning gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Daai swanger dame wat so in die sneeu lê met ‘n dun bloes sonder ‘n kombers moet taai wees. En die mans is nie eers bereid om hul jasse uit te trek nie.

Sobymykoolkop ·

Hartverskeurende foto. As ek reg onthou van vroëre beriggewing het sy reeds gesterf toe die foto geneem is. Baie jammer as ek verkeerd is.

Andries ·

Aangrypende foto! Net jamr di wereld word mislei deur voor te gee dì mense is besig om ‘te wen’. Kyk na agtergrond. Daar is niks meer oor ni. Als sal (hopelik) eendag weer herbou moet word. Geen oorlog het n wenner(s) ni – Slegs verlooders…

Corne ·

“War does not determine who is right only who is left” Bertrand Russell.

houopkruip ·

Die linkse liberale mainstream media moet altyd plek maak vir ‘n rassistiese onderwerp – sal altyd iets soek om verdeeldheid aan te wakker.

annie ·

Onkreukebaar. Watter onwaarheid! En nogal die Pulitzerprys!

Marthinus W ·

En die Nobel Vredesprys is gegee aan pres Obama, om te verhoed dat hy oorlog maak. Hy het toe. En hy het meer joernaliste en fluitjiebalsers in die tronk gegooi as al die president voor en na hom. Net soos die Nobelpryse en die Oscars, is die Pulitzer nou nutteloos; dis nikswerd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.