R Kelly wéér vas oor seksklagte

R Kelly (Foto: AP Photo/Amr Alfiky)

Die bekende “I Believe I Can Fly”-sanger, R Kelly (52), is Donderdag wéér in hegtenis geneem in verband met 13 aanklagte van seksuele misdade.

Dít nadat Kelly in Februarie vanjaar in hegtenis geneem is in verband met tien aanklagte van seksuele misbruik van vier slagoffers, insluitend drie minderjariges. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte en is op borgtog vrygelaat. Nog aanklagte is in Mei teen hom aanhangig gemaak.

Volgens Joseph Fitzpatrick, ʼn woordvoerder van die Amerikaanse aanklagkantoor, is Kelly Donderdag om 19:00 in Chicago, Illinois, in hegtenis geneem. Hy sal verwagting na New York geneem word om in die hof te verskyn.

“Die aanklagte sluit in kinderpornografie, seksuele gereedmaking van ʼn minderjarige en dwarsboming van die gereg,” het Fitzpatrick gesê. Hy het gesê meer besonderhede sal later bekendgemaak word.

Kelly se regsverteenwoordiger kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

R. Kelly is reeds ‘n vorige keer in hegtenis geneem. (Foto: Victor Hilitski/Chicago Sun-Times via AP)

Maroela Media het vroeër berig een van die klagte teen Kelly hou glo verband met ʼn kinderpornografie-saak van meer as ʼn dekade gelede. Kelly is destyds vrygespreek op dié aanklag.

Kelly is onlangs in ’n dokumentêre reeks van seksuele aanranding beskuldig. In die dokumentêr, Surviving R. Kelly, word daar onder meer onderhoude met voormalige vriende en kollegas van die Grammy-bekroonde sanger gevoer. Daar word bewerings gemaak dat Kelly tydens sy loopbaan minderjarige meisies en vroue mishandel het.

Die sanger en liedjieskrywer is bekend vir treffers soos “The World’s Greatest” en “Ignition” en het ook trefferliedjies vir sangers soos Celine Dion, Michael Jackson en Lady Gaga geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.