‘Rooi kaart’ Cane op pad na Japan

(Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP)

Die All Blacks se kaptein, Sam Cane, sal vir die 2024-seisoen by die Japanse klub, Suntory, aansluit, het Nieu-Seeland Rugby Vrydag gesê.

Die span se beheerliggaam meen egter hy sal steeds beskikbaar wees om internasionale wedstryde te speel. “Cane het volgens die kontrak met die Nieu-Seelandse span sabbatsverlof geneem, maar sal in Junie terugkeer om vir die All Blacks te speel,” het die beheerliggaam gesê.

Die 31-jarige oopkantflank het verlede naweek tydens die Rugbywêreldbeker-eindstryd ʼn rooi kaart in Nieu-Seeland se nederlaag van 12-11 teen Suid-Afrika gekry. Hy is die eerste speler wat nog ooit tydens ʼn Wêreldbeker-rugbyeindstryd van die veld af gestuur is.

“Dit het ná die Wêreldbeker net soos die regte tyd gevoel om iets nuuts te beproef en vir Suntory in 2024 te speel,” het Cane in ʼn verklaring gesê.

Die Japanse seisoen skop in Desember af en duur tot Mei. Cane sal dus die wedstryd teen die Waikato Chiefs in die 2024-Superrugby-veldtog (wat in Februarie begin) misloop.

“Dit was nie ʼn maklike besluit om ʼn seisoen by die Chiefs oor te slaan nie, maar ek weet die span is op ʼn wonderlike plek,” het hy gesê.

“Ek is regtig bly dat ek betyds kan terugkeer om my beste voetjie voor te sit vir die All Blacks.”

Nieu-Seeland speel volgende jaar in ʼn toetsreeks gasheer vir Engeland voordat hulle hul verdediging van die Rugbykampioenskapstitel onder die nuwe hoofafrigter, Scott Robertson, begin.

Mark Robinson, uitvoerende hoof van Nieu-Seelandse Rugby, sê daar is baie min spelers wat soveel soos Cane gegee het.

“Dit is ʼn teken van sy verbintenis tot die All Blacks dat hy sal terugkeer en hom beskikbaar stel vir die toetsseisoen.”

Suntory het verlede seisoen derde in die Japan Rugby League One geëindig toe hulle teen die uiteindelike kampioenspan, die Kubota Spears, in die halfeindronde van die vierspan-uitspeelrondes verloor het.

Cane se All Black-spanmaats, Beauden Barrett en Damian McKenzie, het albei die afgelope jare vir die Tokio-gebaseerde klub gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.