Rusland neem beheer oor hawestad

Russiese magte het Donderdag die hawestad Kherson in die suide van Oekraïne ingeneem
{Foto: Sergey Bobok, AFP)

Russiese magte het Donderdag die hawestad Kherson in die suide van Oekraïne ingeneem en is ook reeds besig om die hawestad Marioepol te omsingel. Die oorname van Kherson sal die eerste belangrike stad wees wat Rusland oorneem sedert die Russe ʼn week gelede Oekraïne ingeval het.

In Kherson, ’n stad met sowat 250 000 inwoners net noord van Krimea, het die 58-jarige paramedikus Larysa Pavlovska gesê sommige woongebiede is heeltemal “plat gebombardeer”. Infrastruktuur is vernietig en inwoners is beseer of dood gelaat, berig BBC.

Chaos en paniek het die afgelope week in dié stad geheers, met inwoners wat nie basiese benodighede in die hande kon kry nie. Daar was veral ʼn ernstige tekort aan kos en medisyne – veral insulien – met apteke en winkels wat deur Russiese troepe geplunder is.

Russiese troepe het reeds Woensdag die stad binnegegaan en die raadsgebou beset.

Infrastruktuur is vernietig en inwoners is beseer of dood gelaat in die stad Kherson (Foto: Aris Messinis, AFP)

Russiese magte is ook besig om Marioepol in te val en dié stad se onderburgemeester, Serhiy Orlov, beskryf die situasie as ’n humanitêre ramp. Die stad se krag- en watertoevoer is deur Russiese troepe geblokkeer en treinstasies en brûe vernietig.

“Ons Oekraïense weermag is baie dapper en veg vir Marioepol. Die situasie is nogal kritiek,” het Orlov gesê. Hy het ook ’n beroep op die Weste gedoen om verdere militêre ondersteuning aan die stad te bied.

Volgens Orlov het die Russiese troepe reeds talle residensiële geboue, skole en kleuterskole geteiken.

Vir dae lank het inwoners van Kiëf hulle gereed gemaak vir ’n 64 kilometer lange konvooi van Russiese tenks, gepantserde voertuie en artillerie om op te daag vir ’n aanval op dié Oekraïense hoofstad.

Dae later wag hulle steeds.

Volgens CNN het die Britse ministerie van verdediging Donderdag gesê dit lyk asof die konvooi sowat 30 kilometer buite Kiëf tot stilstand gekom het en die afgelope drie dae “min merkbare vordering” gemaak het.

Volgens die Verenigde Nasies (VN) is daar reeds meer as 800 000 Oekraïners wat uit die land gevlug het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Philip ·

Die kommunistiese DIKTATOR sit veilig en beskermd terwyl sy vuilwerk deur soldate op voetsoolvlak gedoen word en bloed aan beide kante vloei alles om sy EGO te streel en die wereld is n toeskouer .Stuur n VN vredesmag in en stop die slagting.

Chris dupreez ·

Daai idioot sit met kernwapens wat hy sal gebruik. Die res van die wereld kan niks doen behalwe om met poo tin te probeer praat nie.

Johann ·

Maar hey volgens ons eie ANC COMRADES is hulle comrades geregverdig in hulle diplomatiese moord en verwoesting? Maar more staan hulle weer bakhand voor die wereld om hulle bankrotskap te finansier.

Dirk Mostert ·

Die Kiev regime kry nou die medisyne wat die afgelope 8 jaar aan Donbas uitgedeel is.

Human ·

Soos sommige Trotse Afrikaners nou die medisyne terugkry van die ANC Regime wat hand om die blaas staan met Putin.

Jaco ·

Wanneer gaan dié nonsens kommentare dat Rusland kommunisties is nou endkry? Kommunisme het einde 1991 tot ‘n einde gekom in Rusland. Toe het die kommunistiese Sowjetunie, waarvan Rusland die grootste deelstaat was, ook ontbind. Die Russiese Kommunistiese Party is ‘n opposisie party in die Russiese parlement. Dit regeer nie Rusland nie. Putin was in die KGB in die 1980’s en hy was toe kommunisties, maar hy het ook verander. Hy het selfs later by die Russies Ortodokse Kerk aangesluit – VER verwyder van die ateïsme wat die kommuniste verkondig. Rusland het vandag ‘n vrye kapitalistiese ekonomie wat selfs miljoenêrs oplewer. Kan maroelamedia.co.za asseblief ietsplaas oor Rusland wat nie meer kommunisties is nie?

DJ ·

Hierdie saak het twee kante. Vir baie jare het Rusland vir Navo en VSA versoek om nie die oud Russiese satelietstate toe te laat tot Navo nie ook in die onlangse verlede het Putin gewaarsku dat die opbou van militêre mag in Kroeasie en die satelietstate gestaak moet word. Dit alles het op dowe ore geval. So die “Weste” het net soveel skuld aan die oorlog soos Putin. Putin se taak is om sy land te beskerm en dit is wat hy nou doen.

Marius ·

Eenkeer ‘n kommunis, altyd ‘n kommunis. ‘n Jakkals kan nie van sy streke verander nie. Daarom het hul nie ‘n probleem om hospitale, skole en kleuterskole aan te val nie. Dit is maklik om sagte teikens te verwoes en onskuldige mense dood te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.