SA bokskampioen pleit vir sy meisie in Rusland

Chris van Heerden en Ksenia Karelina (Foto: Chris van Heerden/Facebook)

Chris van Heerden, voormalige weltergewigbokskampioen, is radeloos oor sy meisie, Ksenia Karelina, wat in Rusland aangehou word.

Karelina word daarvan beskuldig dat sy $51,80 aan ʼn Oekraïense liefdadigheidsorganisasie in die VSA geskenk het.

Sy is op 27 Januarie 2024 in Rusland in hegtenis geneem deur die federale veiligheidsdiens (FSB) op aanklag van hoogverraad.

“Hierdie verskriklike moeilike situasie duur nou al weke lank en ek was in hierdie tyd nie in staat om dit in die openbaar te bespreek nie,” het Van Heerden vandeesweek in ʼn plasing op sosiale media gesê. “Die Russiese regering het die inligting egter nou bekendgemaak.”

Hy is van voornemens om sterk te bly staan en sal alles in sy vermoë doen om Karelina te laat terugkeer na Amerika. “Dit is ʼn voortdurende stryd, maar ek sal nie moed opgee nie.”

Van Heerden en Karelina woon tans in Kalifornië in die VSA. Karelina het Amerikaanse en Russiese burgerskap en Van Heerden sal binnekort Amerikaanse burgerskap ontvang.

“Ek vra dat julle saam met my sal bid, omdat haar krag en moed tot die uiterste beproef word. Kom ons bid saam dat sy ongeskonde sal bly deur hierdie ontbering.”

Rusland beskuldig Karelina ook daarvan dat sy geld ingesamel het vir Oekraïne se weermag en “openbare byeenkomste in die VSA bygewoon het ter ondersteuning van die Kiëf-regime”, het die Daily Mail berig.

Indien sy skuldig bevind word, kan sy tot 20 jaar tronkstraf in Rusland opgelê word.

Karelina werk tans by Ciel Spa in Beverly Hills. Haar medewerkers het van haar inhegtenisneming te hore gekom toe sy in die middel van Januarie nie vir haar skof opgedaag het nie.

Sy het oorspronklik ʼn werksvisum bekom om as ʼn ballerina in die VSA te gaan werk. Sy werk die afgelope agt jaar by die spa.

Van Heerden werk nou daagliks om seker te maak sy kan veilig terugkeer huis toe. ‘n Petisie is ook intussen van stapel gestuur om haar vrylating te eis.

Hy en Karelina het na Istanbul gereis om die nuwe jaar in 2024 te vier. Ná hul reis het Van Heerden na Los Angeles teruggekeer terwyl Karelina by haar familie in ʼn afgeleë gebied van Rusland naby Siberië gaan kuier het.

Van Heerden het haar vliegtuigkaartjie vir haar geskenk. Voor die vlug was hy reeds bekommerd dat dit gevaarlik vir haar kan wees om na Rusland terug te keer oor die voortgesette oorlog tussen Rusland en Oekraïne.

“Ons het daaroor gepraat. Ek het gesê ek dink nie dit is ʼn goeie idee nie. Daar is ʼn oorlog en Rusland en Amerika is nie op die oomblik goeie vriende nie en jy is ʼn Amerikaner. Maar sy het my oortuig,” het Van Heerden in ʼn onderhoud met KTLA gesê.

Hy sê hy probeer positief dink oor die saak. “Ek vertrou Amerika. Ek plaas my geloof in God. Ek probeer om positief te dink. Ek bid elke aand.”

#freeksenia ????????

Posted by Chris Van Heerden Full on Saturday, February 24, 2024

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.