Sanger Harry Belafonte sterf

Harry Belafonte (96) is Dinsdag oorlede. Hierdie foto is in 2011 geneem. (Foto: John Macdougall / AFP)

Die bekende sanger en menseregteaktivis Harry Belafonte is Dinsdag oorlede. Hy was 96 jaar oud.

Luidens ʼn verklaring deur Belafonte se agent is hy by sy huis in Manhattan in New York aan kongestiewe hartversaking dood.

Die Afro-Amerikaanse popster was veral bekend vir sy liedjies “Mary’s Boy Child”, “Island in the Sun” en “Day-O” (“The Banana Boat Song”). Hy het destyds gewildheid verwerf vir die “Karibiese geur” aan hoofstroom- Westerse musiek.

Sy derde album, “Calypso”, is in 1956 bekendgestel en was die eerste langspeelplaat waarvan meer as ʼn miljoen eksemplare in Amerika verkoop is.

Belafonte was ook daarvoor bekend dat hy “revolusionêre” en aktivistiese boodskappe op subtiele maniere in sy musiek sou verkondig.

“Toe mense gedink het hy sing net oor goeie tye en die eilande, het hy eintlik altyd boodskappe van protes en revolusie in alles wat hy gedoen het, ingebring,” het die sanger John Legend Dinsdag tydens ʼn geleentheid van die tydskrif Time gesê.

Legend was een van verskeie bekendes en politici wat hulde aan Belafonte gebring het.

“Harry Belafonte was nie net ʼn groot vermaaklikheidster nie, maar ook ʼn moedige leier in die stryd teen rassisme en werkersonderdrukking,” het Bernie Sanders, senator van Vermont in die VSA, gesê.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kobus ·

Die man het ‘n soliede stem en onbetwisbare talent gehand. Gelukkig sal die klanke en boodskap bly voorbestaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.