‘Seemonster’: Reuseskedel van pliosourus uitgestal

(Foto: IZI Travel)

ʼn 150 miljoen jaar oue skedel van ʼn reusagtige seemonster wat aan die Jurassiese kus in die suidweste van Engeland opgegrawe is, is nou by die Etches-versameling by Kimmeridge in Dorset, Engeland, te sien.

BBC berig die twee meter lange skedel is dié van ʼn pliosourus – een van die vreesaanjaendste roofdiere wat die planeet nóg bewoon het.

Sir David Attenborough het die ontdekking in ʼn BBC-dokumentêr ondersoek wat op Nuwejaarsdag uitgesaai is.

Die snoet van die pliosourus is deur ʼn fossiel-entoesias op ʼn strand naby Kimmeridge Bay ontdek. Die res van die skedel is teen ʼn vinnig-eroderende krans uitgehaal deur ʼn span wat teen die krans geabseil het. Ander gedeeltes van die dier se geraamte is moontlik nog in die verbrokkelende kranse begrawe en die hoop is dat dit ook betyds herwin kan word.

(Foto: Wikipedia)

Steve Etches het die projek om die fossiel te verwyder en voor te berei, gelei.

Die reusagtige seemonster se skedel word nou by die museum, wat na Etches vernoem is, uitgestal – langs die Jurassiese fossiele wat hom ʼn leeftyd geneem het om te versamel.

“Dit gaan indrukwekkend wees, veral wanneer kinders die museum besoek om die reusagtige seemonster van aangesig tot aangesig te kan sien.

“Die skedel van die pliosourus is een van die volledigste eksemplare wat nog gevind is. Dit verg ook nie veel verbeelding om te sien dat dié dier ʼn moordmasjien was nie,” het Etches aan BBC News gesê.

(Foto: Wikipedia)

Die pliosourus se enorme krokodilagtige kakebeen is gepak met 130 vlymskerp tande en die holtes aan weerskante van die skedel sou met groot spiere gevul gewees het.

Navorsers skat dat die dier se bytkrag byna dieselfde as dié van tyrannosourus rex sou wees – wat aan die pliosourus die bynaam van “see-rex” besorg het.

“Met ʼn lengte van tussen 10 m en 12 m het die antieke reptiel met behulp van sy vier groot roeiagtige ledemate deur die see beweeg. Dus, ondanks sy grootte, het die seemonster waarskynlik baie vinnig beweeg,” sê Etches.

Verbygaande prooi sou met ʼn enkele hap verslind word en wetenskaplikes dink nie hierdie monster het eens die moeite gedoen om sy prooi te kou nie.

“Pliosourusse was heel boaan die voedselketting. Hulle sou selfs op hul eie soort voed. In die versamelings het ons pliosourusbene met pliosourusbytmerke op gevind,” sê Etches.

Benewens openbare belangstelling in hierdie prehistoriese dier, is navorsers ook gretig om die fossiel van naby te aanskou.

Dit het kenmerke wat nie op ander pliosourusse gesien word nie, onder meer ʼn hoë kruin.

  • Bron: BBC

(Foto: Wikipedia)

(Foto: Wikipedia)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Highlander ·

Kan nie wees nie. Die aarde is dan net 6000 jaar oud. Plus minus 20 jaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.