Sewe Christene sterf tydens aanval in Egipte

Vlag van Egipte (Foto: RonnyK, Pixabay)

Islamitiese militante het Vrydag ʼn bus met Christen-pelgrims in Egipte aangeval. Minstens sewe persone is dood en 12 is beseer.

Die land se ministerie van binnelandse sake het gesê die groep was op pad na ʼn afgeleë klooster in die woestyn, suid van Kaïro.

Bouls Halim, woordvoerder vir die Koptiese Kerk, het gesê die dodetal sal waarskynlik toeneem. Plaaslike beamptes van die kerk in Minya-provinsie, waar die aanval plaasgevind het, het gesê minstens 10 persone is dood, maar die hoër getal kon nie bevestig word nie.

Geen groep het onmiddellik aangedui dat hulle verantwoordelik was vir die aanval nie. Die aanval is egter soortgelyk aan vorige Islamitiese militante wat al jare lank met die veiligheidsmagte in die Sinai-skiereiland bots.

Dit is die tweede aanval in soveel jaar op pelgrims wat na die St Samuel the Confessor-klooster reis. Tydens die vorige aanval in Mei 2017 het 30 persone gesterf.

Owerhede het gesê die aanvallers het sekondêre grondpaaie gebruik om by die bus uit te kom. Die groep was naby die klooster toe hulle aangeval is.

Dit is die jongste in ʼn reeks aanvalle wat kerke in Kaïro, Alexandria en Tanta teiken. Minstens 100 persone is in vorige aanvalle oorlede en veiligheid en sekuriteit is rondom Christelike aanbiddingsplekke verskerp.

Egipte se Christene, ongeveer 10% van die land se 100 miljoen mense, gaan gebuk onder diskriminasie in ʼn land waar die meerderheid persone die Moslem-geloof aanhang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rupert Ashford ·

Christene word vervolg en vermoor in elke land waar die “Religeon of piece” dominant is.

Grassie ·

En dan laat Europa, veral Duitsland, Frankryk en Swede, hierdie mense toe om in hul hoderdduisende (miljoene!) in hul lande te kom plak. Hulle gaan ‘n duur prys daarvoor betaal. Gaan dit enigsins beter in ons land?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.