Sewe sterf in ontploffing in Ierland

(Foto: Burgemeester Derry Strabane/Twitter)

Sewe mense is dood in ʼn ontploffing by ʼn vulstasie in Donegal in die noordweste van Ierland, het die polisie Saterdag gesê.

Die Garda Síochána-polisiemag sê agt mense is na hospitale geneem. “Die soektog duur voort na verdere sterfgevalle,” in die dorpie Creeslough.

Reddingspogings deur Ierland se nooddienste het deurnag voortgeduur ná ʼn ontploffing Vrydagmiddag by ʼn vulstasie en naby ʼn woonstelblok.

Ierland se polisie, brandweer, nooddienste, kuswag en ʼn ambulansdiens van Noord-Ierland het reageer. ʼn Spesialisspan van die Britse provinsie is ook op die toneel.

Letterkenny-universiteitshospitaal, sowat 24 km van die toneel, is op gereedheidsgrondslag geplaas en hanteer tans “verskeie ongevalle”.

Ierland se premier, Micheál Martin, het gesê hy “dink aan en bid vir diegene wat hul lewens verloor het en vir diegene wat in die verwoestende ontploffing beseer is”.

“Mense reg oor die eiland is geskok oor die absolute verwoesting,” het hy bygevoeg en die nooddienste bedank “wat deurnag gewerk het onder uiters traumatiese omstandighede”.

Die oorsaak van die ontploffing is nog nie bekendgemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.