Shane Warne aan natuurlike oorsake dood

Shane Warne. Foto: William West/AFP.

’n Nadoodse ondersoek het bevestig dat die legendariese Australiese bybreek-bouler Shane Warne aan natuurlike oorsake oorlede is.

Warne (52) se liggaam sal nou na Bangkok vervoer word om aan diplomate oorhandig te word vir repatriasie na Australië, waar hy met ’n staatsbegrafnis vereer sal word.

Warne is Vrydag in Koh Samui, Thailand, bewusteloos in sy villa aangetref nadat hy ooreengekom het om tyd saam met vriende op die eiland deur te bring, maar nooit vir die afspraak opgedaag het nie. Warne is na die Thai Internasionale Hospitaal Samui gehaas, maar kon ondanks medici se beste pogings nie bygebring word nie.

“Ondersoekers het vandag ’n lykskouingsverslag ontvang waarin ’n forensiese dokter tot die gevolgtrekking kom dat die dood weens natuurlike oorsake was,” sê Krissana Pattanacharoen, adjunk- nasionale polisiewoordvoerder in Thailand, nou.

Warne se familie is reeds van die lykskouingsverslag ingelig en het dit volgens Pattanacharoen aanvaar.

Surachate Hakparn, assistent van die nasionale polisiehoof, het gesê ondersoekers het geen teken van geweld in die villa gevind waar Warne aangetref is nie.

Shane Warne vier nog ’n paaltjie. (AP Photo/Sean Garnsworthy, File)

“Sy pa het gesê hy het borspyne gehad en was van plan om ná die vakansie terug te keer huis toe vir ’n ondersoek,” het Hakparn aan verslaggewers in Koh Samui gesê.

Warne se geliefdes het sedertdien hul stilte verbreek en hulde gebring aan hom.

“Om woorde te vind om ons hartseer voldoende uit te druk, is vir ons ’n onmoontlike taak en om na ’n toekoms sonder Shane te kyk is ondenkbaar,” het sy ouers, Keith en Brigitte Warne, in ’n verklaring gesê.

“Ek mis jou reeds so baie,” het sy dogter, Summer Warne, gesê. “Ek wens ek kon jou stywer omhels het in my laaste oomblikke, sonder my wete, saam met jou.”

“Ek is so lief vir jou. Ek dink nie iets gaan ooit die leemte wat jy in my hart gelaat het, vul nie,” het die oudkrieketspeler se seun, Jackson Warne, in ’n verklaring gesê. “Jy was werklik die beste pa en maat waarvoor enigiemand kon vra. Ek is so lief vir jou, Pa, sien jou binnekort.”

Warne was ook baie geliefd onder sy miljoene aanhangers oor die wêreld heen en het as “Warnie” bekendgestaan. Hy het 15 jaar lank internasionaal krieket gespeel en 708 toetspaaltjies geneem – die meeste vir enige Australiër, en die naasmeeste van alle tye naas Muttiah Muralitharan.

Warne was in die 1990’s en 2000’s deel van ’n onstuitbare Australiese toetsspan en het sy land gehelp om die Wêreldbekertoernooi in 1999 te wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Faraway ·

Hierdie wêreld is NIE ons tuiste nie . . . so is ons almal oppad na die ewigheid

Lollapop ·

So tragies, hy kon nog so baie beteken het vir opkomende krieketspelers maar sy strepie was getrek en ons moet berus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.