Shangri-Las-hoofsanger (75) sterf

Mary Weiss (regs) van die Shangri-Las is Vrydag oorlede. (Foto: Facebook/The Shangri-Las)

Mary Weiss, die hoofsanger van die Amerikaanse musiekgroep, die Shangri-Las, is Vrydag in die ouderdom van 75 dood.

ʼn Verteenwoordiger vir Weiss se platemaatskappy, Norton Records, het dié nuus aan die media bevestig. Die oorsaak van haar dood is egter nog nie bekend gemaak nie.

Die Shangri-Las is in die 1960’s in Queens, New York, in die VSA gevorm en het bestaan uit twee pare susters, Weiss en haar suster, Elizabeth “Betty” Weiss, saam met die tweeling Marguerite “Marge” Ganser en Mary Ann Ganser.

Hulle het op skool ontmoet en reeds as tieners saam begin optree. Die groep se naam is deur ʼn restaurant in hul woonbuurt geïnspireer.

Die Shangri-Las het in 1964 hul debuutenkelsnit, “Remember (Walking in the Sand)”, uitgereik, met bekende liedjies soos “Leader of the Pack”, “Great Big Kiss” en “Heaven Only Knows” wat kort daarna gevolg het.

Hoewel hulle in 1968, minder as vier jaar ná die uitreiking van hul eerste groot treffer, te midde van regskwessies ontbind het, word die groep as ʼn baanbreker vir vrouesanggroepe bestempel.

“Mary was ʼn ikoon, ʼn held, ʼn heldin, vir jong mans én vroue van my generasie en van alle generasies,” het Miriam Linna van Norton Records aan die BBC gesê.

Weiss was vir baie jare afwesig in die musiekbedryf en het na bewering jare lank vir ʼn argiteksfirma gewerk. Sy het egter in 2007 ʼn solo-album met die titel Dangerous Game uitgereik.

Weiss se suster, Betty, is die groep se enigste oorlewende lid.

Bronne: The Hollywood Reporter, BBC, ABC News.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.