Siek walvis terug na diep see

Kenners behandel die siek Cuvier-snoetwalvis naby die kus van Athene. (Foto: ARIS MESSINIS / AFP)

’n Siek jong walvis wat vroeër vandeesweek naby die kus van Athene in Griekeland gevind is, het na dieper waters teruggekeer nadat hy medikasie ontvang het.

Die Cuvier-snoetwalvis swem nou naby die suidelike eiland Salamis, het die adjunkminister van omgewingsake, Georgios Amyras, gesê.

Daar heers egter steeds kommer oor die dier se toestand.

Die dolfynagtige walvis, wat normaalweg in waters van meer as 1 000 meter diep gevind kan word, is Donderdag vir die eerste keer naby die kus van Athene opgemerk.

Wildkenners en lewensredders is Vrydag ontbied nadat die walvis die vlakwater van ’n gewilde strand in die voorstad Palio Faliro bereik het. Die walvis is gehidreer en het antibiotika ontvang voordat hy na ʼn paar uur terug na dieper waters vergesel is.

Natascha Komninou, ’n professor aan die Universiteit van Thessaloniki en hoof van die Arion-walvisreddingsentrum, het gesê die walvis het ’n erg beseerde onderkaak gehad en bloedtoetse het getoon dat hy aan bloedarmoede ly.

“Met so ’n groot besering is dinge moeilik,” het sy gesê.

“Hierdie is ’n diepseedier … hoe langer dit in vlak water bly, hoe groter is die skade aan sy gesondheid,” het Amyras op sy beurt gesê.

Cuvier-snoetwalvisse kan tot 4 000 meter diep duik en word gewoonlik tot sewe meter lank. Die spesie word dikwels die prooi van skeepspropellers, maar is ook uiters sensitief vir “geraasbesoedeling” veroorsaak deur menslike aktiwiteite.

Alexandros Frantzis, ’n mariene bioloog by die nie-winsgewende Pelagos Instituut, het vandeesweek gesê die walvis kon gedisoriënteerd geraak het weens voortdurende seismiese navorsing vir koolwaterstof in die Golf van Kyparissia in Wes-Griekeland, een van die soogdier se hoofhabitatte.

“Dit is een van die vier belangrikste habitatte ter wêreld vir hierdie diere. Ons vernietig hul huis … vir koolwaterstof,” het Frantzis gesê.

Hoewel lewende walvisse selde by Athene opgemerk word, spoel walviskarkasse soms by Griekse eilande uit.

’n Dooie Cuvier-snoetwalvis is in 2016 op ’n klein eiland naby Kreta ontdek, en nog een is die volgende jaar op die eiland Naxos gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.