Sikloon Freddy in fynste besonderhede bekyk

(Foto: Twitter)

Tropiese sikloon Freddy se buitengewone reis sal nou in die fynste besonderhede hersien word om te bepaal of dit werklik die tropiese sikloon was om die langste nóg te woed.

Dié sikloon het die hele suidelike Indiese Oseaan oorgesteek voordat dit in Februarie en Maart grootskaalse vernietiging in Suidoos-Afrika gesaai het.

ʼn Internasionale paneel kundiges sal nou ál die data in die fynste besonderhede nagaan ten einde te bepaal of Freddy ʼn nuwe rekord opgestel het. Dit gaan egter maande neem, waarsku die Verenigde Nasies se Wêreld Meteorologiese Organisasie (WMO) vooraf.

Die huidige rekord word tans gehou deur die orkaan John, wat in 1994 altesaam 31 dae lank as orkaan gewoed het.

Freddy het minstens 36 dae lank gewoed. Dit is egter nie ʼn gedane saak dat dit die rekord breek nie.

Randall Cerveny, die WMO se hekwagter vir wêreldweerrekords, sê die besluit berus eindelik op die beoordeling van die tye toe Freddy onder 34 knope – 63 km/h – gaan draai het voordat hy weer spoed opgetel het.

“Die fundamentele vraag sal wees: tel ons die tyd toe dit onder tropiese stormstatus gaan draai het?” verduidelik Cerveny, ʼn professor in geografiese wetenskappe aan die Arizona State University wat die WMO-argief in 2007 gestig het.

Dié argief vir uiterste weer is in Genève gebaseer en bevat ʼn verskeidenheid rekords waaronder temperatuur, lugdruk, reënval, windspoed, hael en weerlig.

“Ons moet teruggaan en die harde werk doen – kyk na die presiese getalle en waardes. Dit sal tyd neem, maar dit sal ʼn baie omvattende studie wees,” sê Cerveny.

Cerveny stel vir elke potensiële nuwe rekord ʼn paneel van die wêreld se voorste kundiges op daardie gebied saam. Die groepe wissel in grootte van tien tot meer as 20 kundiges en ontmoet virtueel.

Die paneel wat Freddy sal hersien bestaan uit wetenskaplikes van die Amerikaanse nasionale orkaansentrum, kundiges in die monitering van orkane deur middel van satellietbeelde, nasionale weerdiens-meteoroloë van regoor die Indiese Oseaan en algemene klimatoloë.

“Hierdie wetenskaplikes is die beste van die bestes, en sodra hulle ʼn besluit neem, dink ek almal sal daarmee kan saamleef,” sê Cerveny.

“Hierdie besprekings kan regtig ongelooflik wees. Ons het eintlik in vorige besprekings sommige van die fundamentele definisies in meteorologie herskryf,” sê Cerveny met verwysing na hoe weerligflitse gedefinieer word.

“Ek verwag dat dit hier die geval gaan wees wanneer ons ʼn besluit neem of ons sal werk met die tydraamwerk toe Freddy onder tropiese stormstatus was.”

‘n Begrafnis vir van die slagoffers van die tropiese sikloon Freddy in Malawi. (Foto: Amos Gumulira/AFP)

Freddy het op 6 Februarie aan die Noord-Australiese kus as ʼn tropiese storm ontwikkel en teen 21 Februarie Madagaskar getref. Die tropiese storm het groot verwoesting op dié eiland gesaai voordat dit Mosambiek op 24 Februarie bereik het.

Vandaar het Freddy swaar reën en oorstromings regoor Mosambiek en Zimbabwe teweeggebring voordat dit teruggedraai het na die kus, ʼn tweede asem gekry het en Madagaskar wéér getref het.

Freddy het ook weer in Mosambiek en Malawi beïnvloed en oorstromings en modderstortings veroorsaak wat huise, paaie en brûe weggevee het.

Honderde sterftes is in die proses aangemeld voordat Freddy hom teen middel Maart eindelik uitgewoed het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.