Sirkusleeu ontsnap in Italiaanse kusdorp

Skermgreep uit die video (Video: Il Messaggero/Facebook)

ʼn Leeu het Saterdag vir ʼn paar uur lank vry rondgeloop in die strate van ʼn kusdorp in Italië ná hy uit ʼn plaaslike sirkus ontsnap het. Die leeu is later verdoof en aangekeer.

Alessandro Grando, burgemeester van Ladispoli naby Rome, het inwoners gewaarsku om by die huis te bly terwyl die polisie en personeel van die sirkus na die dier op soek was.

Video’s wat later deur Italiaanse media gedeel is, glo geneem deur plaaslike inwoners maar nie bevestig deur AFP nie, wys hoe die volwasse leeu deur donker, verlate strate stap.

Grando het in ʼn Facebook-plasing omstreeks 22:30 (2130 GMT), meer as vyf ure ná die oorspronklike boodskap waarin hy alarm gemaak het, gesê die leeu is “verdoof en aangekeer”.

“Nou sal hy aan sirkuspersoneel oorgegee word,” het hy geskryf. Hy het nooddienste en vrywilligers bedank wat “tydens hierdie ure van groot kommer” hulp verskaf het.

“Ek hoop dat hierdie voorval mense se gewete sal aanraak en dat ons uiteindelik ʼn einde kan bring aan die uitbuiting van diere in sirkusse,” het die burgemeester bygevoeg.

Hy het vroeër benadruk hy het nie goedkeuring gegee vir ʼn sirkus met leeus in die dorp nie, maar het nie die mag om dit teen te staan nie.

Caccia al leone a Ladispoli. L'animale non si riesce a fermare. I filmati ripresi dai cittadini mostrano come si aggiri indisturbato tra le vie della città

Posted by Il Messaggero on Saturday, November 11, 2023

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OU SAAR ·

Shoe, wat ń pragtige dier…
Ten minste lyk hy goed versorg.
Maar ek is ook ten sterkste gekant deur diere in sirkusse gebruik.
Dit grens vir my aan diere mishandeling.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.