Siviele eis dreig oor rugbybeserings   

Foto ter illustrasie. (Foto: Grant Winter/AFP)

ʼn Aantal voormalige amateurrugbyspelers het ʼn eisbrief aan ʼn rits sportbeheerliggame, insluitend Wêreldrugby, geskryf met aantygings dat nie genoeg gedoen word om hulle teen breinbeserings te beskerm nie.

Dit is gedoen in die aanloop tot ʼn moontlike hofgeding waarin oudspelers onder meer sal vra vir vergoeding weens skade wat hulle en hul families gely het weens breinbeserings wat in die loop van hul rugbyloopbaan opgedoen is. Die eisbrief is onder meer aan Wêreldrugby en die Walliese Rugbyunie gestuur.

Die eisers vra dat die sport se beheerliggame “onmiddellike veranderings” aan die spel aanbring, soos ʼn verpligte limiet op die hoeveelheid fisieke kontak wat tydens oefensessies plaasvind.

Die groep van ongeveer 55 gegriefdes sluit in ʼn aantal afgetrede vroue wat internasionaal deelgeneem het, elite manspelers wat deelgeneem het voordat die sport in 1995 professioneel gespeel is, en die familie van manspelers wat dood is weens chroniese traumatiese enkefalopatie. Laasgenoemde is ʼn degeneratiewe breinsiekte wat vermoedelik spruit uit herhaalde koptrauma oor ʼn aantal jare.

“Dit maak nie saak op watter vlak jy gespeel het of watter geslag jy is nie, ons sien ongelukkig nou dieselfde kommerwekkende neurologiese gevolge op alle vlakke van die spel,” het Richard Boardman van die prokureursfirma Rylands Garth gesê. Dié firma verteenwoordig die 55 eisers, asook meer as 275 voormalige professionele atlete in soortgelyke sake wat breinskade opgedoen het weens die spel. Dit sluit in Engeland se 2003 Wêreldrugbykampioen Steve Thompson en die voormalige Walliese kaptein Ryan Jones.

Benewens vergoeding wil die eisers ook hê die sport moet veiliger vir toekomstige geslagte gemaak word.

“Hierdie is ʼn saak van lewe en dood vir meeste van die eisers. Die meerderheid van huidige en voormalige spelers wat ons verteenwoordig is baie lief vir die spel en wil nie sien dat dit in enige manier skade ly nie,” sê Boardman. “Dié wat betrokke is wil bloot die spel veiliger maak sodat toekomstige generasies nie dieselfde gesondheidspaadjie as hulle loop nie.”

Bill Beaumont, voorsitter van Wêreldrugby, het in ʼn ope brief in aanloop tot die 2023 Wêreldbeker in Frankryk gesê spelerwelstand is vir hulle ontsettend belangrik en dat hulle reeds in 2022 goeie vordering gemaak het om die fokus hierop te plaas. Die organisasie hoop om vanjaar hierop voort te bou.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.