Skool herhaaldelik gewaarsku oor sesjarige skieter

Abby Zwerner (25) is beseer toe ’n sesjarige leerder haar in ’n klaskamer geskiet het. (Foto: Facebook / Abby Zwerner)

Voordat ʼn sesjarige skoolseun sy onderwyseres ʼn paar weke gelede by ʼn skool in die VSA in ʼn skietvoorval gewond het, is die skool glo herhaaldelik gewaarsku dat die seun dalk ʼn vuurwapen het en ander mense daarmee dreig.

Abigail Zwerner (25), die onderwyseres wat ernstig beseer is toe die kind haar in ʼn klaskamer geskiet het, beoog regstappe teen die Richneck Elementary School in Newport News, Virginia, omdat die skoolowerheid dié waarskuwings na bewering geïgnoreer het.

Diane Toscana, Zwerner se regsverteenwoordiger, sê haar kliënt en ander onderwysers het adminstrateurs van die skool op 6 Januarie – die dag van die skietery – drie keer gewaarsku dat die kind “moontlik ʼn vuurwapen het en ander dreig”.

Zwerner het die skool ook gewaarsku dat die kind, wie se naam weerhou word, glo ʼn ander leerder wou aanrand. Nog ʼn onderwyser het aangemeld dat ʼn leerder die vuurwapen glo gesien en dat die seun hom glo daarmee gedreig het.

“Hierdie tragedie kon vermy gewees het indien administrateurs – wat vir skoolveiligheid verantwoordelik is – hul deel gedoen en dadelik opgetree het,” het Toscana gesê.

NBC News berig dat Zwerner kort voor die skietvoorval boonop ʼn boodskap aan ʼn geliefde gestuur het waarin sy sê sy vermoed die kind is gewapen, maar dat die skool niks daaraan doen nie. ʼn Uur later het die kind op haar losgebrand.

Zwerner het die voorval oorleef, maar is ernstig beseer toe die koeël haar eers in die hand en toe in die bors getref het. Sy moet nog verskeie operasies ondergaan.

Die seun het die vuurwapen vermoedelik aan hom gedra aangesien Zwerner dit nie in sy skoolsak gesien het nie. Personeel is egter nie toegelaat om die seun persoonlik te deursoek nie. ʼn Administrateur het glo aan die bekommerde onderwysers gesê dat die seun se broek “klein sakke” het en dat die saak tot die einde van die dag kan wag.

Die voorval het skokgolwe deur die VSA gestuur – veral oor die jong ouderdom van die kind. Skietvoorvalle by skole in die VSA het egter oor die afgelope jare skerp toegeneem.

Die kind se ouers voer aan die vuurwapen was wel veilig gebêre, maar dat die kind dit uit sy ma se kas gevat het.

Die ouers het kort ná die voorval in ʼn verklaring gesê dat die kind aan ʼn “akute gestremdheid” ly en deel van ʼn spesiale versorgingsprogram by die skool was. Dié plan het ingesluit dat ʼn familielid hom na die skool en klas begelei.

“Die week van die skietery was die eerste week wat ons nie saam met hom in die klas was nie,” het die ouers gesê.

Dit is onwaarskynlik dat strafregtelike klagte teen die kind ingedien sal word, hoewel sy ouers wel deur klagte in die gesig gestaar word aangesien hul toegelaat het dat die kind toegang tot die vuurwapen kry.

 

*Bykomende bron: NBC News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

yahneh ·

Vuurwapens hoort in ‘n kluis, nie ‘n kas nie. Hoe het die sesjarige geweet hoe om toegang tot die wapen te kry? Blantante nalatigheid.

AmY ·

Hoekom het die skool nie gehoor gegee aan die waarskuwings nie?

VaalDonkie ·

Want dis hoe skole opereer. Ignoreer ‘n probleem, dan gaan dit mos vanself weg.

Hennie Biebouw ·

Dis reeds wyd gepubliseer dat die kind swart is en deur ‘n enkelmoeder grootgemaak word.
Dis mynsinsiens wat gebeur wanneer ‘n vrees vir negatiewe publisiteit, of “social justice” vergelding, daartoe aanleiding gee dat rasionele optrede as onvanpas beskou word.

Ek hoop sy wen die saak

Yolandie ·

Dis soveel die ouers se verantwoordelikheid om die vuurwapen van hulle “kinders” af weg te hou as wat dit die skool se verantwoordelikheid is om die polisie in te lig dat ‘n minderjarige ‘n vuurwapen in sy besit het. Dit het nie net die onderwysers in gevaar geplaas nie maar ook die kinders van die skool. Dit is onaanvaarbaar om te hoor dat die skool lankal hiervan bewus was. En dat die leerling links en regs kinders gedreig het met die vuurwapen en die skool het niks hieraan gedoen nie.

domheks ·

Dagvaar die ouers en die skool wat te lamsakkig was om iets te doen.

George ·

In n land waar schoolshootings amper daagliks gebeur, is dit belaglik dat hul dit ignoreer het, en moet ook blaam vat, saam die ouers van die kind

Marina ·

Die kind kom uit n baie swak (en gevaarlike) area uit en het heelwaarskynlik net n ma in die huis. Dalk is dit maar hul manier om konflik op te los? Iewers moes die kind dit tog gesien het? In November 2022 het n 7-jarige van die Bronx in NYC n vuurwapen in sy skooltas ontdek en die onderwyseres daarvan in kennis gestel. Blykbaar sy ma se boyfriend se vuurwapen wat hy vinnig moes wegsteek omdat die polisie hom gejaag het. Hierdie twee gebeure het in krotbuurte afgespeel. Die tradisionele skoolskieters is gewoonlik ouer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.