Skrywer wat blog oor moord, moor dalk self

Die skrywer Nancy Brophy. *Foto: Facebook/ Nancy Brophy)

Dis soos iets uit ʼn speurverhaal; die uitbetaling van ʼn lewenspolis, ʼn verdagte wat kwansuis aan geheueverlies ly, ʼn vermiste wapen en beeldmateriaal wat skynbaar die skuldige op heterdaad betrap.

Hierdie is egter nie die intrige van die skrywer Nancy Crampton Brophy se jongste boek nie, maar ʼn werklike hofsaak wat hom in die Amerikaanse deelstaat Oregon afspeel.

Brophy (71) word daarvan aangekla dat sy haar man, Daniel Brophy, doodgeskiet het deur ʼn vuurwapen te gebruik wat nou vermis word. Die verdediging voer aan die skrywer het kort voor haar man se dood nog gesukkel om al haar betalings te doen, maar het verskeie polisse in plek gehad wat ʼn totaal van $1,4 miljoen (sowat R22 miljoen) sou uitbetaal, sou haar man te sterwe kom.

Nancy is die skrywer van die boekereeks “Wrong Never Felt So Right”, wat die titels Wrong Husband en Wrong Lover insluit. Sy het ook ʼn blog getiteld “How to kill your husband” geskryf, wat aanlyn gepubliseer is.  Hierin beskryf sy metodes om van “ongewenste lewensmaats” ontslae te raak.

Die voorblad van een van Nancy Brophy se gewilde boeke. (Foto: Amazon)

Daniel (63) is op 2 Junie 2018 in een van die Oregon Cullinary Institute se klaskamers doodgeskiet. Hy was ʼn kok en het ten tye van sy dood hier klasgegee. Sy liggaam is die oggend deur sy studente ontdek. Hy is twee keer geskiet.

Die skrywer hou egter vol sy was beter af terwyl haar man gelewe het, as ná sy dood en sê daar is geen motief vir haar om haar man te vermoor nie.

Staatsaanklaer Shawn Overstreet het egter verwys na beeldmateriaal van sekerheidskameras wat wys dat Nancy se stasiewa buite die instelling geparkeer was ten tye van haar man se dood. “Jy was daar op die presiese tydstip wat jou man vermoor is. Hy is vermoor met die presiese wapen wat jy besit en intussen geheimsinnig verdwyn het,” het Overstreet in die hof aangevoer. Volgens die verdediging was Nancy voor haar man se dood op die rand van bankrotskap.

Nancy het egter aangevoer sy kan “glad nie onthou” dat sy op die betrokke dag by dié instelling was nie en sê haar voertuig verskyn op die beeldmateriaal omdat sy die dag rondgery het op soek na inspirasie vir haar volgende boek. “Ek sou tog elke detail onthou het indien ek hom wel vermoor het,” het sy in die hof getuig.

Volgens ondersoekbeamptes is die vuurwapen wat tydens die moord gebruik is, deur die verdagte op eBay gekoop. Dit het sedert die moord spoorloos verdwyn. Nancy erken dat sy die wapen gekoop het, maar sê dit was vir haar man om te gebruik as selfverdediging terwyl hy gaan “sampioene pluk”.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Wondermaarnet ·

Hehehe die R22 miljoen polis geld kan sy skenk vir die vlag en paal in SA.

Blikkies ·

Mense wat dink hulle is smart is nie altyd so ….smart nie ne’

Niklaas ·

Dalks effe hoog gelewe en polisse opbrengste sou handig te pas kom . Hierdie episode is egter nie fiksie nie. Probleme wag op Tannie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.