‘Slumdog Millionaire’-akteur Irrfan Khan oorlede

Irrfan Khan (3 Mei 2013) (Foto: AP Photo/Manish Swarup, File)

Die Indiese akteur Irrfan Khan, bekend vir sy rolle in “Slumdog Millionaire”, “Life of Pi” en talle ander bekroonde Bollywood-flieks, is Woensdag in die ouderdom van 53 oorlede.

ʼn Woordvoerder van die Kokilaben Dhirubhai Ambani-hospitaal het Khan se afsterwe bevestig. Hy is in dié hospitaal in Indië opgeneem weens komplikasies van ʼn kolon-infeksie.

Die akteur was bekend vir sy veelsydigheid en hy het talle rolle – van boef tot held – vertolk.

Hy is in 2018 met endokriene kanker gediagnoseer en het lank behandeling in Londen ontvang. Hy het in 2019 teruggekeer werk toe.

“Dis ʼn hartseer dag. Irrfan was ʼn sterk siel, iemand wat tot die einde geveg het en altyd enigiemand geïnspireer het wat naby hom gekom het,” het sy agent in ʼn verklaring gesê.

Hy word oorleef deur sy vrou, die draaiboekskrywer Sutapa Sikder, en twee seuns.

Hy het tydens sy loopbaan van meer as drie dekades in meer as 100 flieks verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sandra ·

Dis nou slegte nuus. Die rolprent Life of Pi is een van my heel gunstelinge. Mag hy sag in vrede rus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.