Só ontbied stom tiener hulp

Soek- en reddingsdienste het vir byna ses ure na die tiener gesoek (Foto: Twitter)

’n Stom tiener wat in ’n digte woud in Kalifornië vermis geraak het, het hulp ontbied deur klippe teen mekaar te slaan.

Sky News en NBC News berig die 16-jarige seun het ontwikkelingsgestremdheid. Die kind, wie se naam nie bekend gemaak is nie, het tydens ʼn staptog in Glendale, Los Angeles County, van sy ma en suster weggehardloop en in die woud verdwyn.

Soek-en-reddingspanne is gestuur om die dig beboste gebied om Crescenta Valley Park, suid van die Angeles National Forest, te fynkam.

Ná ʼn ses ure lange soektog het Steve Goldsworthy, adjunk van die Sheriff, die geluid van klippe gehoor wat vanuit die rigting van ’n canyon opgeklink het.

“Dit het geklink soos iemand wat twee klippe vat en teenmekaar klap,” het Goldsworthy gesê.

Hy het ʼn polisiehelikopter gevra om in die canyon te soek, waarna die tiener gevind is. Hy het onder ʼn eikeboom gesit, sowat 5 km van waar hy vermis geraak het.

Paramedici het die tiener op die toneel behandel voor hy met sy gesin herenig is.

Die tiener se ma het aan Goldsworthy gesê dat haar seun ’n groot liefde vir klippe het. “Sy ma vertel hy sal uit sy pad gaan om ’n klip te skop, op te tel, of te gooi.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.