SpaceX-lansering: Ruimtevaarders koppel aan ruimtestasie

Bob Behnken en Doug Hurley aanboord die ruimtekapsule Crew Dragon (Foto: SpaceX)

Deur Johan Lombaard

Nasa se ruimtevaarders Bob Behnken en Doug Hurley het geslaagd aan die Internasionale Ruimtestasie (ISS) gekoppel. Behnken en Hurley sal nou moet wag totdat die lekkasie- en drukkingtoetse afgehandel is voordat hulle by die Russiese en Amerikaanse bemanning kan aansluit wat reeds op die ISS is.

Maroela Media het vroeër berig Behnken en Hurley het geskiedenis gemaak toe hulle Saterdagaand aan boord SpaceX, Elon Musk se ruimtevaartonderneming, se ruimtekapsule Crew Dragon, gelanseer deur die nou bekende Falcon 9-vuurpyl, na die ISS vertrek het.

Die Internasionale Ruimtestasie (Foto: SpaceX)

Dit is die eerste keer in nege jaar dat ʼn ruimtetuig met Amerikaners van Amerikaanse grondgebied af gelanseer word. SpaceX het ook die eerste private maatskappy geword om mense na die ruimte te neem.

Hier is tien interessante feite oor die Internasionale Ruimtestasie:

  1. Dit word algemeen aanvaar dat die Internasionale Ruimtestasie die duurste item is wat ooit deur die mensdom gebou is. Die koste word bereken op ongeveer $120 miljard.
  2. Met ʼn lengte van 109 m is die ruimtestasie effens langer as ʼn rugbyveld. Die interne volume wat onder atmosferiese druk gehou word, is dieselfde as dié van ʼn Boeing 747.
  3. Die stasie bevat ongeveer 350 000 sensors, wat gedurig deur sagteware gemonitor word om die bemanning se veiligheid te verseker.
  4. Die feit dat die stasie nie op aarde is nie, beteken nie dat die 52 rekenaars aan boord nie virusse kan kry nie. Die eerste virus aan boord staan bekend as W32.Gammima.AG. Daar is egter tot dusver geen ernstige skade deur rekenaarvirusse veroorsaak nie.
  5. Omdat die menslike liggaam been- en spiermassa verloor as dit te min gravitasie ervaar, word daar van die bemanning verwag om minstens twee uur per dag te oefen om hul liggaam gesond te hou.
  6. Die ruimtestasie is al deur 240 ruimtevaarders uit 19 lande besoek.
  7. Die primêre bron van suurstof is water, wat deur elektrolise in suurstof en waterstof opgebreek word.
  8. Drinkwater word aan die urien van die bemanning onttrek om die afhanklikheid van water wat vanaf die aarde vervoer word, te beperk.
  9. Die ruimtestasie wentel om die aarde teen ongeveer 28 000 km/h. Die afstand wat dit per dag aflê, is byna twee keer die afstand tussen die aarde en die maan.
  10. Die bemanning beleef 16 sonsopkomste en -ondergange per dag.

Bronne: Nasa, Scientific American, BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MakersMark ·

Musk wil in 2050 1 m mense Mars toe neem. Hoop daar is hotelle en restaurante en ander pret vermaak op Mars by daai tyd. Of gaan dit in die vorm van ‘n verbyvlug wees ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.