Springsteen groet verhoog tydelik weens siekte

Bruce Springsteen (Foto: Instagram)

Die Amerikaanse rocker Bruce Springsteen het besluit om al sy konserte vir die res van die jaar tot volgende jaar uit te stel. Hy ontvang tans behandeling vir maagsere.

Die 74-jarige rocker is op die herstelpad, maar sal op doktersadvies vir die res van die jaar behandeling moet ondergaan.

“Dankie aan al my vriende en aanhangers vir julle goeie wense, aanmoediging en ondersteuning. Ek is aan die herstel en kan nie wag om julle almal volgende jaar te sien nie,” het Springsteen Woensdag in ʼn verklaring gesê.

Maagsere is oop sere wat aan die binnekant van die maagwand en die boonste gedeelte van die dunderm ontwikkel. Die algemeenste simptoom is buikpyn.

Springsteen, ook bekend as “The Boss”, is sedert die begin van die jaar op toer saam met sy E Street Band.

Hy het egter vroeër vandeesmaand aangekondig dat hy al sy konserte vir September in die VSA sal moet uitstel weens sy siekte. Hy het ook twee vertonings in Augustus uitgestel.

Nuwe datums vir elk van die 2023-vertonings, insluitend dié wat vroeër vandeesmaand uitgestel is, sal volgende week bekend gemaak word.

Springsteen, bekend vir megatreffers soos “Born to Run”, “Tougher than the Rest” en “Dancing in the Dark”, het al meer as 150 miljoen albums verkoop.

Die rocker is ook bekend vir sy marathon-vertonings. Sy langste konsert het meer as vier uur geduur; dit was ʼn onvergeetlike vertoning wat hy in 2012 in Helsinki gelewer het.

Springsteen het net voor die aankondiging oor sy siektetoestand ʼn ononderbroke drie uur lange vertoning in sy tuisstaat, New Jersey, onder ʼn vol laatsomermaan gelewer en in ʼn stadium sy hemp oopgeskeur tot die vreugde van tienduisende aanhangers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karoo ·

Daar kom ‘n tyd vir ons almal om te aanvaar dat jy moet afstaan van sekere dinge in jou lewe wat jou nie meer dien nie.

Hans ·

Ek is jammer vir persoon wat net 3 “voosgespeelde” liedjies ken van Springsteen. Hy het baie musiek wat nooit op beperkte speellyste van SA radio’s kom nie. Ek dink bv aan “Jesus was an only son” of “Black cowboys” of “The fighter” of “Long walk home”! Dalk nie ritme vir “headbangers” nie, maar uitstekende musiek en lirieke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.