Steeds geen besluit oor Olimpiese Spele

Die nuwe Olimpiese Museum in Japan (Foto: AP Photo/Jae C. Hong)

Wêreld Atletiek het aanbeveel dat die Olimpiese Spele in Tokio uitgestel moet word weens die uitbreking van die nuwe koronavirus (Covid-19).

Die organisasie het gesê hy is gereed om ook sy wêreldkampioenskap in 2021 uit te stel indien die Olimpiese Spele uitgestel word. Die wêreldkampioenskap is tans geskeduleer vir 6 Augustus – 15 Augustus 2021 in Eugene, Oregon.

Sebastian Coe, president van Wêreld Atletiek, verwelkom gesprekke met die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) om ʼn alternatiewe datum te bepaal vir die Tokio-Spele. Dit sluit glo ook “datums in 2021” in.

Coe het skriftelik aan Thomas Bach, president van die IOK, gesê die Olimpiese Spele in Julie 2020 is “nie lewensvatbaar of verkieslik nie”.

“Niemand wil hê die Olimpiese Spele moet uitgestel word nie, maar ek het in die openbaar al gesê ons kan nie ten alle koste voortgaan met die Spele nie – veral nie as dit atlete se veiligheid gaan raak nie,” het Coe in sy brief gesê, aldus die BBC.

Die IOK het Sondag gesê hy sal binne vier weke ʼn aankondiging maak oor die moontlike uitstel van die Spele, wat na verwagting op 24 Julie sal begin. ʼn Jaar lange uitstel is die waarskynlikste opsie en die atletiek-wêreldkampioenskap sal gevolglik ook uitgestel moet word.

Kanada was Sondag die eerste groot land wat reeds uit die somer- en winter- Olimpiese en Paralimpiese Spele onttrek het. Die land versoek dat die Spele vir minstens ʼn jaar uitgestel moet word. Australië het sy atlete voorberei op ʼn moontlike uitstel en die VSA het ook al versoek dat die Spele uitgestel moet word.

ʼn Uitstel van die somer se Olimpiese en Paralimpiese Spele sal Japan ongeveer 640 miljard tot 670 miljard jen uit die sak jaag en biljoene jen in verliese in die bruto binnelandse produk beteken, het kenners van dié land gesê.

Shinzo Abe, eerste minister van Japan, het gesê die Spele kan nie onder die huidige omstandighede voortgaan nie.

Die IOK het erken hy oorweeg om die Spele uit te stel, maar Bach het gesê dit is te vroeg om nou al enige besluit te maak. “Die situasie met miljoene nagte wat reeds in hotelle bespreek is, is uiters moeilik om te bestuur. Die internasionale sportkalender vir minstens 33 Olimpiese sportsoorte sal gevolglik ook aangepas moet word. Dit is maar net ʼn paar van die talle, talle uitdagings.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan Venter ·

Besighede sluit nou vinnig hul deure die een na die ander, as Eskom volg, is dit dubbel nag!

Johan Venter ·

Maar als is nie nag nie, per EWN:
“People in central China where the coronavirus was first detected are allowed to go back to work and public transport is restarting, as some normality slowly returns after a two-month lockdown.”

SomeOne ·

wat is nou belangriker, die 600 – 700 miljard jen wat verlore gaan, of die mense se lewens

Niklaas ·

Met vrese vir skares naby jou en dan die probleem om vliegtuie soontoe te reel , kan ek nie sien hoe Japan dit gaan aanbied nie. Dalks wag hulle vir een wonderwerk wat die probleem gougou oplos . Tog sal ek en duisende ander bitter graag die Spele op TV wou geniet , so die tyd sal leer. As daar nie baie spoedig ‘n teen middel ontdek en suksesvol getoets word , sal die Spele onmoontlik wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.