Storm Eunice eis reeds minstens nege

Mense sukkel in die wind oor Westminster-brug naby die parlement in Londen (18 Februarie 2022) (Foto: Tolga Akmen/AFP)

Minstens nege mense is reeds Vrydag in Europa dood tydens rekordsterkte winde weens storm Eunice in Brittanje. Miljoene moes skuiling soek en vlugte en treine is ontwrig.

Londen se strate was leeg ná die hoofstad onder sy eers “rooi” weerwaarskuwing geplaas is – dit beteken dit is lewensgevaarlike omstandighede.

Teen die aand het die polisie gesê ʼn vrou in haar 30’s is dood toe ʼn boom op ʼn motor geval het waarin sy as ʼn passasier gesit het.

ʼn Man in sy 50’s is ook in die noordweste van Engeland dood toe puin die voorruit van sy motor getref het, aldus Merseyside-polisie.

Bome wat omgeval het, het minstens drie mense se lewens in Nederland geëis en ʼn man in sy 60’s in die suidooste van Ierland. ʼn Kanadees (79) is in België dood, aldus beamptes in die onderskeie lande.

ʼn Motoris is dood toe ʼn motor in ʼn boom vasgery het wat oor ʼn pad naby Adorp in Groningen, Nederland, omgeval het.

ʼn Motoris is in Duitsland dood toe ʼn boom sy motor naby Altenberge getref het.

Talle huise is in Den Haag ontruim te midde van vrese dat ʼn kerktoring kan omval.

Golwe slaan teen ʼn seemuur by Porthcawl in die suide van Wallis (18 Februarie 2022) (Foto: Geoff Caddick/AFP)

Die hoogste weerwaarskuwingsvlak is ook oor die suide van Engeland, die suide van Wallis en Nederland uitgereik. Talle skole is gesluit en treinritte is opgeskort.

Storm Eunice se sterk wind het ook kragonderbrekings veroorsaak by meer as 140 000 huise in Engeland, hoofsaaklik in die suidweste, en 80 000 eiendomme in Ierland.

Drie mense is in Londen na ʼn hospitaal geneem ná hulle beserings in die storm opgedoen het. ʼn Groot deel van die dak van die Millennium Dome het afgewaai.

Een stormsterkte wind van 196 km/h is op die Eiland Wight aangeteken, “voorlopig die sterkste rukwind ooit in Engeland aangeteken”, het die Met-kantoor gesê.

Eunice het ook groot golwe veroorsaak in die noordweste van Frankryk. België, Denemarke en Swede het ook weerwaarskuwings uitgereik. Langafstand-treine en streekstreine in die noorde van Duitsland is ook opgeskort.

Honderde vlugte is by Heathrow en Gatwick in Londen en Schiphol in Amsterdam gekanselleer of vertraag. ʼn easyJet-vlug van Bordeaux het twee keer by Gatwick probeer land te midde van wind van ongeveer 125 km/h, maar moes terugdraai na die Franse stad.

Eerste minister Boris Johnson het die Britse weermag op bystand geplaas.

Roy Stokes, beampte van die omgewingsagentskap, het amateur-fotograwe en persone wat weersomstandighede dophou, gewaarsku om nie na Brittanje se suidelike kuslyn te reis vir dramatiese beeldmateriaal nie. “Dit is die domste ding wat jy kan doen,” het hy gesê.

Die brandweer in Londen het op 550 noodgevalle reageer in net meer as twee ure. Verskeie van die oproepe was egter nie werklike noodgevalle nie. Een inwoner het byvoorbeeld gekla oor die bure se trampolien wat rondwaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.