Talle beseer toe promosiegeleentheid skeefloop

‘n Skermskoot van die video. 

Vyf mense is Maandag in ’n hospitaal opgeneem toe ’n promosiegeleentheid by ’n winkelsentrum in Australië skeefgeloop het.

’n Winkelsentrum in Parramatta, ’n voorstad van Sydney, het ’n 33-uur inkopiemarathon voor Kersfees aangebied waartydens ballonne om middernag van die winkelsentrum se plafon neergelaat sou word. Dié ballonne is gevul met afslagaanbiedinge vir gelukkige klante.

Honderde kopers het onder dié ballonne saamgedrom vir die oomblik wanneer die ballonne uit die lug sou daal en hul hul kans sou aangryp om ’n promosie in een van die ballonne los te slaan. Dié oomblik het egter tot ’n stormloop gelei.

’n Versperring is in die proses omgestamp en kopers is in die see van mense vasgekeer.

Phil Templeman, ’n ambulansinspekteur van Nieu-Suid-Wallis, sê ’n aantal kopers het geringe beserings in die voorval opgedoen waaronder pyn aan hul nek, rug en enkels.

Vyf mense is egter met pyn in die bors, nek en rug asook naarheid en lighoofdigheid na ’n hospitaal gehaas.

ʼn Woordvoerder van die winkelsentrum het verseker dat die maatskappy die omstandighede rondom die geleentheid ondersoek.

Die chaos is op kamera vasgevang. Kyk hier na beeldmateriaal deur ABC7 News:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.