Talle dood, honderde vermis ná damwal bars

Die Xepian-Xe Namnoy-dam in die Attapeu-provinsie in Laos. Foto: http://www.laoenergy.la

Talle mense is dood en honderde word vermis nadat ʼn hidroëlektriese dam in die suide van Laos se wal gebars het.

Die amptelike Laos-nuusagentskap KPL het Dinsdag berig die Xepian-Xe Namnoy-dam in die Attapeu-provinsie se wal het Maandagaand gebars en ʼn ontsaglike hoeveelheid water deur verskeie nedersettings laat spoel. Huise is deur die water meegesleur en meer as 6 600 mense is dakloos gelaat.

Die dam is gebou in ʼn gesamentlike poging tussen Suid-Koreaanse maatskappye met vennote van Thailand en Laos. Bouwerk het in 2013 begin en die dam sou na verwagting vanjaar amptelik in gebruik geneem word. Dit is onduidelik of dit reeds in bedryf was.

The Guardian berig die vyf miljard kubieke meter water het onderskeidelik deur die Yai Thae-, Hinlad-, Mai-, Thasengchan-, Tha Hin- en Samong-nedersetting gespoel. Die amptelike dodetal van die ramp is nog nie bekend nie.

Thongloun Sisoulith, die eerste minister van Laos, het ʼn beroep op regeringsorganisasies, die polisie en die weermag gedoen om bystand te lewer met die reddingspogings.

Die oorsaak van die voorval is nog nie bekend nie.

Hou Maroela Media dop vir meer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anoniem ·

Sterkte met die Reddings poging en die opruimings operasie !

Clem Marais ·

Breek ‘n damwal nie in Afrikaans, in plaas van om te bars nie? Op Engels praat mens tog van ‘n “dam burst”?

Rupert Ashford ·

? Jy is reg, Clem. ‘n Nuwe sillabus lid het seker die direkte vertaling uit Ingels gedoen…?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.