Thai-vrou al met 13 moorde verbind

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Bill Oxford/Unsplash)

Die polisie in Thailand het hul ondersoek vergroot oor ʼn vrou wat daarvan beskuldig word dat sy verantwoordelik is vir 13 persone se sianiedvergiftiging. Sy word daarvan beskuldig dat sy die moorde vooraf beplan het.

Sararat Rangsiwuthaporn, wat met ʼn senior polisiebeampte getroud is, is Dinsdag in hegtenis geneem op aanklag van nege moorde wat oor ʼn paar jaar strek.

Die polisie glo geld was die motief vir die moorde, maar sê Sararat, wat vier maande swanger is, is vroeër met sielkundige probleme gediagnoseer.

Beamptes het Donderdag aangedui hulle ondersoek nou 13 verdagte sterftes sedert 2020, aldus nasionale polisiehoof Surachate Hakparn. “Sy staan tereg op aanklag van moord met voorbedagte rade,” het hy aan verslaggewers in Bangkok gesê.

Die polisie het nie bevestig van hoeveel moorde Sararat beskuldig word nie, maar sy ontken alle bewerings teen haar.

Die polisie het ook die geografiese gebied vergroot wat hulle ondersoek en stel nou ondersoek in oor vyf provinsies heen, hoofsaaklik na die weste van Bangkok.

Beamptes het op ʼn middel by die vrou se huis afgekom wat owerhede glo sianied kan wees. Hulle vermoed sy het die slagoffers se kos en drinkgoed vergiftig.

Ná ʼn roetine gesondheidsondersoek in die tronk het die departement van korrektiewe dienste Donderdag bevestig sy is vier maande swanger. Sy ly aan angs, hoofpyne en sukkel om te sien.

Ondersoekbeamptes het reeds haar polisiebeampteman en ander getuies ondervra.

Volgens die polisie het ʼn 14de persoon ternouernood ontkom toe hulle die vergiftigde kos opgebring het.

“Die verdagte het haar jongste slagoffer sover gekry om kruie te eet en sowat 20 minute later het sy ineengestort,” het Surachate gesê. Die publiek is versoek om met die polisie kontak te maak indien hulle van enige ander sake bewus is.

Die polisie het aanvanklik die vrou verdink van ʼn moord op ʼn vriend in die Ratchaburi-provinsie, wes van Bangkok, sowat twee weke gelede.

Plaaslike media het gesê die man het ineengestort op die oewer van die Mae Klingrivier ná hy vis vrygelaat het as deel van ʼn Boeddhistiese ritueel.

Ná hulle Sararat ondervra het, het ondersoekbeamptes haar met verskeie ander sianiedvergiftigingsake verbind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

TruthDealer ·

Wat n bose vrou, en onnosel. Het sulke mense Geen konsep van die hiernamaals nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.